NewsNews

Dié erfenisskatte nou in die Vrystaat te sien

Dié erfenisskatte nou in die Vrystaat te sien

 

Erfenisskatte van adv. JG Strijdom, voormalige eerste minister van die Unie van Suid-Afrika, sal eersdaags buite Parys te sien wees. Personeel van die Erfenisstigting (ES) by die Voortrekkermonument in Pretoria het in Augustus verlede jaar Strijdom se huis in Modimolle (voorheen Nylstroom) gaan oppak.

Dié stigting het ‘n bruikleenooreenkoms met die Limpopo provinsiale departement van sport, kuns en kultuur, asook die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit aangegaan. Sedertdien is die ES amptelik die bewaarders van die Strijdomhuis se skatte. Personeel van die ES en die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) het die afgelope naweek (Saterdag) hande gevat om die laaste groter items, waaronder ‘n perdekar, AGA-koolstoof en ‘n borsbeeld van Strijdom, wat nog by die Strijdomhuis oorgebly het, te gaan verwyder en dit na die FAK se Udolpho Rivierplaas net buite Parys geneem. Dié keer het lede van die Suid-Afrikaanse Weermagvereniging (SAWV) se Kiewiet-tak in Vereeniging, wat ook in die FAK-Vaaldriehoek-Kultuurnetwerk dien, kom hand bysit en gehelp om die nodige vervoer en verdere mannekrag te verskaf. Jaco Cilliers, bestuurder van Erfenisbewaring by die ES, het die lede FAK-Vaaldriehoek-Kultuurnetwerk en SAWV vir hulle “reuse bydrae” bedank.  

Jan-Danie Malan, projekorganiseerder van FAK-Kultuurnetwerke in die Vrystaat, by die borsbeeld van adv. JG Strijdom, voor dit die afgelope naweek van Strijdom se huis in Modimolle (voorheen Nylstroom) na die FAK se Udolpho Rivierplaas buite Parys verskuif is. Foto’s: Verskaf

“Hulle het ons regtig baie gehelp. Dit is vir ons (ES) ongelooflik belangrik om hande te vat met sulke organisasies, want alleen kan ons nie die stryd wen nie.” Jan-Danie Malan, projekorganiseerder van FAK-Kultuurnetwerke in die Vrystaat, sê die erfenisskatte van Strijdom gaan eersdaags in die Ou Plaashuis by die Udolpho Rivierplaas uitgestal word. “JG Strijdom het die monumentekomitee, wat later die monumentekommissie geword het, op die been gebring. Dit is ‘n baie groot voorreg om nou hierdie bewaringsdiens aan hierdie man (Strijdom) 70 jaar later terug te bewys.”

m ’n historiese perdekar te verskuif is geen maklike taak nie. Lede van die FAK, Erfenisstigting en Suid-Afrikaanse Weermagvereniging (SAWV) het egter korte mette van dié reuse taak gemaak. Okkie Jooste, lid van die FAK-Vaaldriehoek-Kultuurnetwerk en die SAWV se Kiewiet-tak staan binne in die vragmotor, terwyl nog lede van die FAK, waaronder Jaco van Rensburg, Barry Müller, projekorganiseerder van FAK-Kultuurnetwerke in Gauteng, Kallie van der Merwe en Thelma du Toit (opsigters van die Strijdomhuis) die perdekar wat aan adv. JG Strijdom behoort het, help om dít in die vragmotor te laai

Barry Müller, projekorganiseerder van FAK-Kultuurnetwerke in Gauteng, sê: “Hoekom ‘n gebeurtenis soos hierdie belangrik is, bo en behalwe die behoud en beskerming van ons erfenisskatte, is om ook te wys hoe verskeie mense vanuit verskeie organisasies soos een gemeenskap kan saamkom om ‘n gemene doel te bereik.” Adv. JG Strijdom was die vyfde eerste minister van die Unie van Suid-Afrika van 1954 tot sy dood in 1958. Sy familiewoning in Modimolle het hy aanvanklik gebruik om sy prokureursfirma te bedryf. Strijdom, wat bekend gestaan het as die Leeu van die Noorde, se huis is in 1976 as museum verklaar. Die afgelope paar jaar het die museum agteruitgegaan, in so ‘n mate dat termiete die dakbalke begin opvreet het. Die meeste van die plafon is ook reeds opgevreet. Dit was net nie meer veilig om die erfenisskatte daar te hou nie.

Die perdekar wat aan adv. JG Strijdom behoort het, sal eersdaags vir die publiek te sien wees by die FAK se Udolpho Rivierplaas buite Parys. Die manne wat gehelp het om dié perdekar te skuif, is van links: Okkie Jooste, Mark Walkden, Frans Harding, Jan-Danie Malan, Petrus du Plessis en Gys Stöh.

Die owerhede en die ES het verlede jaar besluit om hande te vat om die kosbare geskiedenis te bewaar. Verskeie van die artefakte, soos skilderye, portrette, Strijdom se tikmasjien, familiebybel en selfs Paul Kruger se pyp, is intussen deur die ES nagegaan en sal gerestoureer word indien nodig. Van die artefakte sal ook binnekort by die Erfenisstigting by die Voortrekkermonument uitgestal word.

 

 

 

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button