NewsNews

Baanbreker geologie-professor en sy vrou ter ruste gelê

Hy was een van die baanbrekers in die studies van die Vredefort Koepel.

 

 
 
‘Een van die baanbrekers in die studie van die Vredefort Koepel, prof.  Andries Adriaan Bisschoff (99) is op 13 Januarie weens Covid-19 oorlede is. Sy vrou, Patricia (83) is slegs ‘n dag voor hom, op 12 Januarie, ook weens Covid-19 oorlede. Hulle was byna 37 jaar getroud en onafskeidbaar.

 

Prof. Bischoff is op 11 Mei 1922 op die plaas Rustvoorbij in die Swartruggens-distrik as die oudste van nege kinders gebore. Hy het aan die Hoёrskool Rodeon gematrikuleer, waarna hy vir ‘n B.Sc.-graad aan die destydse PU vir CHO ingeskryf het. Geologie het gou een van sy voorliefdes geword en dit was die begin van ‘n fenominale loopbaan in Geologie.

 

Na sy B.Sc. het hy vir ‘n jaar in Potchefstroom se krytfabriek gewerk om fondse bymekaar te maak vir verdere studies. Hierna kry hy ‘n aanstelling in die PU vir CHO se Geologie Departement, waar hy tot met sy aftrede in 1987 gewerk het. Prof. Bischoff het sy merk in die geologiewêreld met baanbrekende werk gemaak. In 1969 behaal hy sy D.Sc. in Geologie aan die Universiteit van Pretoria oor die gesteentes van die Vredefort Koepel. In 1981 was hy President van die Geologiese Vereniging van Suid-Afrika. Vanaf 1976 tot en met sy aftrede in 1987, was hy die departementshoof van Geologie aan die PU vir CHO. Hy was een van die baanbrekers in die studies van die Vredefort Koepel. Selfs na sy aftrede was hy nog aktief betrokke by geologiese aangeleenthede. Hy het ook bygedra tot die hersiene geologiese kaart van die Vredefort Koepel wat deur die Raad op Geowetenskappe in 1999 gepubliseer is.

Prof. Andries Bisschoff was een van die baanbrekers in geologie en departementshoof van geologie op die Puk vanaf 1976-1987.

Saam met twee van sy oud-studente en vriende, prof. Frans Waanders en dr. Martin Brink, was hulle instrumenteel om die Vredefort Koepel as ‘n Unesco Wêreld Erfenisgebied verklaar te kry. Hy was vir vele oud-studente ‘n mentor en hulle het hom nog gereeld kom besoek nadat hulle afstudeer het, of selfs afgetree het. Die NWU gee ook erkenning aan hom deur die Universiteit se Geologiese Museum na hom te vernoem. In 1950 trou hy met Albie van der Walt. Twee seuns, Danie en Ignatius word uit die huwelik gebore. Albie was die eerste onderwyseres en later skoolhoof by ES le Grange Skool.

Prof. Andries Bisschoff was nog flink en skerp op 99.

Sy en Andries het die visie gehad dat hierdie kinders van die wieg tot die graf versorg moet word. Nadat Albie in 1975 oorlede is, het oupa Andries voortgegaan om hierdie visie uit te leef. Hy was een van die stigterslede van Amelia Nasorg Sentrum, wat een van die juwele van Potchefstroom is. Toe hy later met Ouma Pat getroud is, het hy en sy voortgegaan om te help om Amelia uit te bou.

Hulle was nog betrokke by Amelia ten tyde van hulle afsterwe. Dit was ook by die Geologie Departement waar Andries en Patricia mekaar ontmoet het, en toe later in 1985 getroud is. Pat het groot deernis vir minderbevoorregtes gehad. Saam met Andries het hulle reuse werk verrig in die groei van Amelia Nasorg Sentrum, wat vandag een van Potchefstroom se groot bates is. Ouma Patrys, soos wat sy ook genoem is, was baie lief vir intrige. Hiervan getuig haar groot versameling speur- en spioenasieboeke. Sy het ook die manewales van die Amerikaanse politici getrou gevolg, en as jy iets daarvan wou weet, kon jy maar vir Ouma Pat vra. Sy en Andries was ook groot diereliefhebbers. Hulle het in die destydse Potchefstroomse DBV bestuur gedien. Hulle heengaan word ook diep betreur deur hulle Jack Russel, Jackie en kat Felix. Sy was baie trots op haar kinders, kleinkinders en agterkleinkinders. Sy het altyd op hoogte gebly van die doen en late van al haar kleinkinders. Pat se sprankelende, uitgaande persoonlikheid het haar geliefd gemaak in die Potchefstroomse gemeenskap. Toe hy in die veertigerjare in Potchefstroom gekom het, was ds. Worst van hierdie gemeente sy mentor. Prof. Bischoff het graag staaltjies oor ds. Worst vertel. Hy was vir ongeveer 80 jaar lank lidmaat van hierdie gemeente, hoewel as gevolg van sy hoё ouderdom, later jare nie meer baie aktief nie. Oupa Andries was baie lief vir opera en Duitse Lieder. Hy het ‘n groot plate en CD versameling gehad, en graag daarna geluister.

 
Prof. Andries Bisschoff in sy laaste paar jaar.

“Oupa Andries het ‘n merkwaardige geheue gehad. Ons het ‘n paar maande voor sy dood gepraat oor ‘n sekere geologiese formasie. Hy verwys my toe na ‘n boek waarin hy in potlood 45 jaar gelede ‘n kantaantekening gemaak het oor daardie formasie. Hy kon ook die familie in detail uitlê. “Hy was ‘n ongeslypte diamant. Reguit, nie doekies omgedraai nie. Maar daar is min mense wat soveel deernis, integriteit, lojaliteit en omgee as hy gehad het. “Sy opregtheid in alles wat hy gedoen het sal ons altyd bybly “Hulle het soos hand en handskoen gepas. Soms vurige redenasies gehad, maar nooit kwaad gaan slaap nie. “Hulle het eenvoudig alles saam gedoen. Ouma moes gereedskap aangee as Oupa aan iets werk, en hy het geduldig (soms ongeduldig!) saam met haar inkopies gedoen. “Soos een van hulle oud-kollegas van die Geologie Departement gesê het- dis goed dat hulle saam huis toe is. Die een sou nie sonder die ander een kon oorleef nie.”

 
Lees die oorspronklike berig hier. https://potchefstroomherald.co.za/100117/baanbreker-geologie-professor-en-sy-vrou-ter-ruste-gele/
 
 
 
 
You can read the full story on our App. Download it here.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button