Of jy nou lief is vir vissmeer of nie – daar is beslis heelwat Suid-Afrikaners wat sal saamstem oor die lekkerte van ‘n vissmeer geroosterde broodjie saam met ‘n koppie tee. Maar ook hieraan gaan ‘n einde nou kom. Twee ou gunstelinge, Pecks Anchovette- en Redro-vissmeer sal eersdaags verdwyn van winkelrakke. Die vervaardiging van die vissmeerprodukte is einde verlede jaar gestaak as deel van Pioneer Foods se voortdurende portefeuljehersiening. Vervaardiging en verkope van die items is al in Desember verlede jaar gestop. Pecks Anchovette het ‘n trotse Britse tradisie van sover terug as 1891. In 1960 is Suid-Afrikaners aan die lekkerte bekendgestel. Voor dit was daar die plaaslike vissmeer Redro wat gemaak is in die 1930’s met ‘n familieresep. Dalk onthou jy nog die kostelike Redro advertensies met die slagspreuk – “Want dit is alles wat jy liefhet.”





