NewsNews

Peutervrye meters dalk nie nou die antwoord vir Eskom-krisis

’n Inkomste verhoging van R6m per maand vir die Ngwathe munisipaliteit met die installering van die sogenaamde ‘smart’ peutervrye meters in Parys, Tumahole en Heilbron, kon ’n groot hupstoot gegee het vir dié munisipaliteit se afbetaling van sy astronomiese skuld by Eskom. Maar van die beloofde 1 540 meters wat teen November verlede jaar geïnstalleer moes wees vir die besparing, is ’n skamele 60 meters nog geïnstalleer. Boonop blyk dit nou dat daar gewag word vir fondse om nog van dié meters te installeer. Die inligting is verlede week bekendgemaak tydens ’n openbare vergadering met sakelui waartydens die waarnemende munisipale bestuurder, mnr. Pule Tsekedi, breedvoerig verduidelik het wat die voordele van die meters vir Ngwathe inhou.

’n  Inkomste verhoging van R6m per maand vir die Ngwathe munisipaliteit met die installering van die sogenaamde ‘smart’ peutervrye meters in Parys, Tumahole en Heilbron, kon ’n  groot hupstoot gegee het vir dié munisipaliteit se afbetaling van sy astronomiese skuld by Eskom.
Maar van die beloofde 1 540 meters wat teen November verlede jaar geïnstalleer moes wees vir die besparing, is ’n skamele 60 meters nog geïnstalleer. Boonop blyk dit nou dat daar gewag word vir fondse om nog van dié meters te installeer. Die inligting is verlede week bekendgemaak tydens ’n openbare vergadering met sakelui waartydens die waarnemende munisipale bestuurder, mnr. Pule Tsekedi, breedvoerig verduidelik het wat die voordele van die meters vir Ngwathe inhou.
Tsekedi het nie doekies omgedraai oor die erns van Eskom se dreigement om Ngwathe se kragtoevoer te sny nie, maar in dieselfde asem ook gesê “daar sal nie ’n  dag wees dat Eskom eenvoudig sal kom om Ngwathe se kragtoevoer te sny nie.”
Hy het gesê dat Ngwathe die enigste munisipaliteit was wat nie ’n  ooreenkoms met Eskom aangegaan het vir afbetaling nie, juis omdat dié munisipaliteit hom nie kan verbind tot ’n  afbetaling wat nie haalbaar is nie. Hy het ook verwys na die direkte onderhandelings op hoë vlak tussen die munisipaliteit, die kragreus en Na-sionale Tesourie om werkbare oplossings vir die al groter wordende skuldlas te probeer kry wat teen einde verlede week al op R487m gestaan het. Rente van by die R5m kom maandeliks by.
Tsekedi het gesê daar is geen kitsoplossing vir die kragkrisis met mense wat nie betaal nie as gevolg van dispute met die munisipaliteit, onwettige kragverkope en kragdiefstal. Selfs Ngwathe amptenare het hulle al hieraan skuldig gemaak en is daar opgetree teen die skuldiges, het hy gesê.
Volgens Tsekedi het die munisipaliteit nie die geld om Eskom te betaal nie, en is die enigste oplossing om by ’n  punt te begin met die installering van die peutervrye meters. Hiervoor word besighede as die grootste kragverbruikers eerste geteiken vir die installering wat tot nou toe vir die verbruiker kosteloos gedoen is.
Die voordele van die peutervrye meter is deur verteenwoordigers van die Edison Power Group aan wie die kontrak toegeken is, uitgewys as ’n akkurate manier om werklike kragverbruik te bepaal, terwyl menslike foute uitgeskakel word met meters wat nie gereeld of verkeerd gelees word, lesings wat foutiewelik ingelees word op die rekenaarstelsel, en skattings wat gemaak word. Boonop herken die meter kragkoepons wat onwettige gekoop is.
Al sou die meters op die langtermyn dalk die kwessie van onwettige kragverkope en kragdiestal aanspreek, was dit duidelik dat daar baie vrae is wat nie beantwoord kan word nie. Die kwessie oor wat onmiddellik gedoen kan word om die Eskom-skuldberg af te werk, is steeds nie deur die Ngwathe-bestuur tydens die vergadering beantwoord nie. Ook nie hoeveel in rand en sent reeds deur die meters bespaar is nie, of waar die geld vandaan gaan kom om uiteindelik alle meters met peutervrye meters te vervang nie.
DA-raadslid Arnold Schoonwinkel wou weet hoekom die geld daarvoor op was, nadat slegs 60 meters geïnstalleer is. “In Julie verlede jaar het die burgemeester ons ingelig ’n  kontrak is onderteken om 1 540 meters te installeer en dat die provinsie R5m daarvoor bewillig het.” Die nuwe meters sou almal voor 15 November verlede jaar in werking wees. “Ons is verseker hierdie nuwe meters sou Ngwathe se inkomste met R6m maandeliks verhoog,” het rdl. Schoonwinkel gesê. Schoonwinkel het nou dringend ’n spesiale vergadering  van die Raad se Staande Komitee oor Finansies hieroor aangevra. “Hierdie hele kwessie is ondeursigtig en kommerwekkend.”  Hy sê die Raad is nie vooraf ingelig oor die kontrak nie, mededingende tenders is nie aangevra nie en die Raad het die kontrak nie goedgekeur voordat dit deur die munisipale bestuurder onderteken is nie. By Gazette se ter perse gaan was dit nog nie bekend wanneer die Finanskomitee sou vergader nie. Die goeie nuus is dat die munisipale bestuur by die vergadering onderneem het dat beter kommunikasie en soortgelyke vergaderings in al die Ngwathe dorpe beslis in die toekoms gesien gaan word.

Related Articles

Back to top button