NewsNews

Misbruik jou tiener alkohol?

SA is die sesde grootste alkoholverbruiker ter wêreld

 

Suid-Afrika is die sesde grootste alkoholverbruiker ter wêreld. Wat kommerwekkend is, is dat heelwat jongmense in ons land begin drink wanneer hulle nog baie jonk is. Daar is 13-jariges wat reeds alkohol gebruik. 50% van tieners het al alkoholiese drankies gedrink en 25% van adolessente was al dronk.

Volgens inligting wat deur Solidariteit verskaf is, het dit deur navorsing aan die lig gekom dat wanneer iemand reeds as tiener (jonger as 18) begin om alkohol te gebruik, hy ʼn groter kans staan om daarvan of van ander opkikkers afhanklik te word.  Daar is ook ʼn sterk skakel tussen alkoholgebruik en tienerswangerskap en die verspreiding van MIV.

Dit veroorsaak ook ‘n probleem met dissipline in skole. Tieners wat alkohol drink, staan ook ʼn drie keer groter kans om by gewelddadige misdaad betrokke te raak. Die meeste tieners doen dit όf om in te pas en gewild te wees onder hulle maats, όf uit moedeloosheid. Die laaste groep is kinders wat nie hoop het vir ʼn mooi en suksesvolle toekoms nie.

Tieners wat ‘n goeie verhouding met hul ouers het en voel dat hulle met hul ouers oor ernstige onderwerpe kan gesels, is minder geneig om alkohol te misbruik.  Moenie eers met jou tiener hieroor begin praat wanneer hy 15 of 16 jaar oud is nie. Op hierdie ouderdom sal hy liewer na sy vriende se opinies luister. Begin hierdie gesprekke wanneer jou kind 10 jaar oud is. Bou jou tiener se selfbeeld op, en help hom sodoende om te sien dat hy nie alkohol nodig het om sy drome te vervul nie.

Praat met hom oor sy drome vir die toekoms en wat hy graag wil bereik. Moedig jou tiener aan om by buitemuurse aktiwiteite betrokke te raak. Dit hoef nie sport te wees nie. Laat jou kind iets kies wat by hom pas en wat hy sal geniet. Indien jy vermoed dat jou tiener alkohol gebruik, sal dit nie help om te hoop dat dit net ʼn fase is nie.

Praat met hom daaroor. Wees geduldig maar ferm. Indien hy nie met jou daaroor wil praat nie, gee hom genoeg lugtyd en nommers wat hy kan bel waar hy anoniem kan hulp kry.

Ouers kan self ook hierdie nommers skakel om raad te vra: Life Line – 0861 322 322 en Alkoholiste Anoniem (AA) – 0861 4357 22.

Inligting: Solidariteit: Internet

Foto: Ter illustrasie: Internet

 

 

Related Articles

Back to top button