NewsNews

Vloedskade weens swak infrastruktuur

Vloedskade weens swak infrastruktuur

“Die agtergrond rondom die huidige vloedskade aan ons fasiliteit kom eintlik al verder as net die gebeure van die laaste week. Dit kom al vir meer as vyf jaar.
“Dit is egter nie die eerste keer dat ons sulke waterskade ondervind nie. Die vorige keer was ons hele aanleg kniediep onder water.” So sê mnr. Johan du Toit van Osprey. Hy het aan Parys Gazette gesê hulle ontken onder geen omstandighede die invloed van die huidige reënpatrone nie, maar voel dat meer as net die weerstoestande vir die huidige toedrag van sake verantwoordelik is.

“Hierdie gebeurtenis kon voorkom of totaal verhoed word indien dit nie vir die gebrekkige instandhouding en dienslewering van die plaaslike munisipaliteit was nie. Wat die situasie vererger het, is die feit dat die munisipaliteit erwe uitgesit het teenaan ons perseel. Ons is geleë teen ‘n skuinste, en het al vir geruime tyd self die munisipaliteit se grondkeerwalle in stand gehou en verbeter om die reënwater se afvoer na ons perseel te beheer.

 

Die vloedskade wat by Osprey in Parys aangerig is. Die eienaars lê die probleem voor die deur van die munisipaliteit. Foto’s: Verskaf

“Met die uitsit van die erwe, is ‘n kontrak deur die munisipaliteit toegeken om solank die rioleringstelsel te voltooi (+- drie jaar gelede). Sodanige kontrak is nie na wense vervul nie, aangesien daar oral nog gate, slote of klippe/rotse sigbaar is, en die nodige rehabilitasie van die area nog nie na wense plaasgevind het nie. Die keerwalle is ook in die proses deur die kontrakteur tot niet gemaak, deurdat dit platgestoot is. “Alhoewel ons die aan die kontrakteur en munisipaliteit probeer verduidelik het oor die moontlike nadelige gevolge, het dit op dowe ore geval. Vir meer as ‘n jaar gebeur daar niks verder met die rioleringstelsel of erwe nie.

 

 

“Dit het ons genoop om op ons eie onkoste weer ‘n deel van die keerwal te vestig om sodoende ons risikoblootstelling te beperk. Ons voel uiters gefrustreerd, aangesien ons ook op eie onkoste probeer om die teer- en grondpad om ons perseel in stand te hou, nieteenstaande die feit dat ons ons diensterekening maandeliks met die munisipaliteit vereffen. “Ons kan nie onverpoos uit ons eie bronne met sulke ‘projekte’ aangaan nie,” het hy gesê.

* Parys Gazette sal die munisipaliteit se kommentaar in ‘n opvolgberig verskaf sodra dit ontvang word.

 

 

 

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button