Local newsNewsNewsUpdate

Parys plaasmoord: Saak tot 15 April uitgestel

PARYS. - Die staat is weer Vrydag 12 Februarie oor die vingers getik oor ondersoekwerk wat steeds nie afgehandel is nie ná die dood van twee plaaswerkers, Samuel Tjixa en Simon Jubeba, in die Weiveld-distrik in Januarie vanjaar.

PARYS. – Die staat is weer Vrydag 12 Februarie oor die vingers getik oor ondersoekwerk wat steeds nie afgehandel is nie ná die dood van twee plaaswerkers, Samuel Tjixa en Simon Jubeba, in die Weiveld-distrik in Januarie vanjaar.
Landdros Pillay het met die verskyning van die vyf beskuldigdes, Boeta van der Westhuizen, Johan Cilliers sr. en sy seun, Johan Cilliers jr., Anton Loggenberg en kapt. Henk Prinsloo, in die landdroshof in Parys, die staat se versoek om uitstel toegestaan. Al vyf staan tereg op aanklagte van moord.
Die vyf sal weer op 15 April in die hof verskyn wanneer die saak na die hooggeregshof verwys moet word, het Pillay gesê.
Die staat het aangevoer dat daar steeds gewag word op DNS-toetsuitslae en selfoon ontledings, en daar is nog verklarings wat afgeneem moet word.
Intussen wil dit ook lyk of die Valke dalk soek na jonger verdagtes wat moontlik betrokke kon wees.
Landdros Pillay het dit duidelik gemaak dat met die beskuldigdes se vorige hofverskyning ’n maand gelede, ondersoekwerk nie afgehandel was nie. Sy het daarop gewys dat dit ’n baie ernstige saak is wat nie net in die dorp nie, maar ook landwyd en wêreldwyd opslae maak en spanning veroorsaak. Sy het daarom versoek dat daar nie langer uitstel toegestaan sal word nie. Sy het gesê dat sou die ondersoek met die volgende hofverskyning steeds nie afgehandel wees nie, sy die nodige stappe sal neem. Al vyf is uit op borgtog van R5 000 elk wat verleng is. Die saak spruit uit ’n voorval op 6 Januarie vanjaar toe Boeta se pa, Loedie van der Westhuizen op sy plaas aangeval is en talle boere, ook van die Koppies en Heilbron distrikte, op die noodroep gereageer het. Die twee oorledenes is toe op ’n buurplaas deur die boere in hegtenis geneem. Hulle was ernstig beseer en het ure na die voorval in die hospitaal aan hul beserings beswyk.
Die moordwapen – ’n moersleutel – asook die vuurwapen wat volgens Loedie van der Westhuizen tydens die aanval op hom gerig is, is steeds soek.
Onderwyl die hofverrigtinge in ’n vol saal met groot mediabelangstelling aan die gang was, het ’n groep ANC-ondersteuners, EFF-ondersteuners en ’n klein groepie mense wat die boere ondersteun het, buite die hofgebou byeen gekom. ’n Aantal motorfietsryers het elders in die dorp saamgetrek. Dreunsang is onder beide die ANC en EFF groepe gehoor, terwyl die boere stil eenkant gestaan het – almal agter lemmetjiesdraad versperrings. ’n Klein groepie ANC-ondersteuners het later tartend na die draadversperring beweeg waar die boere-ondersteuners hul sang en danse met stilswye aangehoor het.
Ook die EFF en ANC-ondersteuners het mekaar in ‘n stadium tartend weerskante van die lemmetjiesdraad uitgejou. Die polisie het deurentyd ’n baie sterk teenwoordigheid gehandhaaf buite, maar ook in die hofsaal.
Die EFF het verlede week reeds gedreig dat verkope van boere se produkte in die dorp geboikot sal word.

 

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button