CommunityPhoto Galleries

DBV-staatmakers verhuis na Wellington

Die plaaslike tak van die Dierebeskermingsvereniging (DBV) verloor twee groot staatmakers. Die egpaar Neil en Denize Visser wat die afgelope 5 jaar hier werksaam was as inspekteur en kantoorbestuurder onderskeidelik, verhuis na Wellington. Vandag (Donderdag 18 Februarie) is hul laaste werksdag. Hul vertrek Vrydag 19 Februarie. ’n Aanstelling in Neil se pos as DBV-inspekteur, is …

Die plaaslike tak van die Dierebeskermingsvereniging (DBV) verloor twee groot staatmakers. Die egpaar Neil en Denize Visser wat die afgelope 5 jaar hier werksaam was as inspekteur en kantoorbestuurder onderskeidelik, verhuis na Wellington.
Vandag (Donderdag 18 Februarie) is hul laaste werksdag. Hul vertrek Vrydag 19 Februarie. ’n Aanstelling in Neil se pos as DBV-inspekteur, is op die laaste nippertjie deur die kandidaat van die hand gewys en sal die pos nou weer geadverteer word, sê Simon Olley, DBV komitee-voorsitter.
Neil en Denize se passie vir diere en dit wat hulle in die gemeenskap gedoen het, is oor die afgelope 5 jaar raakgesien.
Hulle het die DBV-tak opgebou nie net as tuiste vir hawelose diere nie, maar as ’n plek waar mense graag ingeloer het, al was dit net om skenkings af te gee of ’n  koppie koffie te drink. Groter bewustheid vir diere en hul unieke behoeftes is in die gemeenskap geskep en ’n baie goeie verhouding is gebou tussen die DBV en veeartse van die dorp. “Die ondersteuning wat ek gehad het van veeartse hier was net die heel beste,” gesels Neil.
Denize het op haar beurt die administratiewe stelsel op datum gebring, gesorg dat die diere in die DBV-hokke goed versorg is, en dat skoolgroepe en organisasies gereeld die DBV besoek het waar sy onder meer ook opvoedkundige werkswinkels aangebied en inligtingspamflette versprei het. So is kinders geleer hoe om diere korrek te versorg en wat die rol van die DBV in ’n  gemeenskap is.
Baie meer aandag is aan die perdekarre in die dorp gegee in samewerking met die Highveld Horse Care Unit, om te kyk na die welstand van die perde.
Hierbenewens is met die hulp van borge en geesdriftige fondsinsamelaars soos June Britten, gedink aan allerhande planne om die inkomste van die DBV aan te vul. Só is begin met die aanlê van groentetuine en die inrig van ’n  komposmasjien op die perseel waarmee kompos vervaardig word om ’n  gereelde ekstra inkomste vir die DBV te verseker.
Neil en Denize stem saam dat hul sukses in die opbou van die DBV lê by die steun van die gemeenskap wat hulle op die hande gedra het en hul werk soveel makliker gemaak het. Elkeen wat hul pad die afgelope 5 jaar gekruis het en ’n  hand van hulp uitgesteek het na die DBV.
Neil het ’n pos aanvaar as inspekteur by die Wellington DBV-tak, terwyl Denize haar droom gaan uitleef met die begin van ’n onderneming waar meubels en ander huishoudelike artikels uit afvalprodukte gemaak gaan word. Dit sal deel vorm van ’n werkskeppingsprojek om behoeftige vroue te bemagtig om ’n  inkomste vir hulself te skep.
Maggie Mantoro sal nou die kantoor/ontvangs behartig, terwyl Marietjie Olivier die administratiewe gedeelte en die hokke by die DBV sal hanteer totdat ’n  aanstelling vir ’n  DBV inspekteur gemaak is.
’n Hoogtepunt vir die egpaar op die vooraand van hul vertrek, was ’n groot skenking honde- en katkos wat Vrydag aan die DBV oorhandig is deur Eulania Janse van Rensburg, ’n leerling van die Hoërskool Parys. Gazette het die afgelope 2 weke berig van die merkwaardige 16-jarige Eulania wat pleks van ’n verjaardagpartytjie en geskenke, die gemeenskap gevra het om skenkings van nie-bederfbare voedsel vir behoeftige mense en diere te bring in ruil vir ’n kolwyntjiekoekie. Die skenking wat sy oorhandig het is wat sy met die projek vir die DBV ingesamel het.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button