News

Twee Vrystaatse boere verlede week vermoor

Twee Vrystaatse boere verlede week vermoor

Twee Vrystaatse boere is verlede week vermoor. Die 29-jarige Christian van Tonder van Lindley is verlede Maandag in die Barrage-omgewing koelbloedig doodgeskiet.

Volgens brig. Motantsi Makhele sou hy geld by die Barrage gaan haal het vir beeste wat hy verkoop het. Christiaan het met Drakenbergers geboer. Hy sou oënskynlik die veeaankoper Maandagmiddag by die Barrage ontmoet het. Sy bakkie is egter later die aand sowat 15km vanaf die Barrage naby die R59 deur ‘n polisiebeampte opgemerk en sy liggaam is in die bakkie gevind met ‘n nekwond.

Net ‘n dag later, Dinsdag 30 November, is die 73-jarige mnr. Johan Prinsloo in die Koppies-distrik vermoor. Volgens brig. Makhele was wyle mnr. Prinsloo wat ook ‘n bemarkingsagent vir Vleissentraal in Kroonstad was, die oggend om 07:30 op sy kleinhoewe buite Koppies saam met van sy werknemers.

‘n Man met ‘n vuurwapen het skielik op hom en ‘n werker afgestorm en skote begin skiet. Mnr. Prinsloo en die werker het probeer vlug, maar nog ‘n skoot is afgevuur wat mnr. Prinsloo noodlottig gewond het. Hy is op die toneel dood verklaar. Die ander plaaswerkers kon daarin slaag om te vlug.

Die polisie, boere en veiligheidstrukture het hulle na die kleinhoewe gehaas en die omgewing gefynkam vir die vier aanvallers. Hierop is ‘n man volgens brig. Makhele in die veld opgemerk en deur die polisie agternagesit. Die man het egter vanuit die bosse skote met ‘n pistool op die polisie begin skiet, sê Makhele, en is hy in die skietgeveg wat hierop gevolg het, ook noodlottig gewond. Die polisie ondersoek klagte van moord na die dood van mnre. Prinsloo en Van Tonder.

Die polisie se provinsiale kommissaris in die Vrystaat, lt.genl. Motswenyane het ook die ondersoekspanne opdrag gegee om onverpoosd na die moordenaars van die oorledenes te soek.  

 

 

 

Related Articles

Back to top button