News

Rekordbedrag van R50 miljoen ingesamel vir studiehulp

Rekordbedrag van R50 miljoen ingesamel vir studiehulp

 

 

Die Helpende Hand Studietrust (HHS) het gedurende 2021 R50,3 miljoen se fondse ingesamel, waarmee ongeveer 1 000 hulpbehoewende Afrikaanse studente se studiedrome in 2022 bewaarheid sal word.
Stefan Pieterse, hoof van die HHS, het Maandag tydens ʼn mediakonferensie in Pretoria gesê dit is die produk van die publiek se oop harte en hande, asook die vertroue wat meer as 200 onafhanklike donateurs in die HHS het.
Die HHS is ʼn platform van Solidariteit Helpende Hand waardeur donateurs hulpbehoewende studente se studies deur middel van rentevrye studielenings kan befonds, in ruil vir ʼn belastingvoordeel, en die nalaat van ʼn nalatenskap.
Rentevrye studielenings word toegestaan op die basis dat studente wat afstudeer, slegs dit terugbetaal wat hulle geleen het, sonder dat enige rente of administratiewe fooie gehef word. Geld wat teruggevorder word, word sodoende weer en weer aangewend om die volgende hulpbehoewende studente se studies moontlik te maak.
Die bedrag van R50,3 miljoen word opgemaak uit skenkings ontvang gedurende 2021 (R28,98 miljoen), asook terugvorderings van afgestudeerde studente wat hul rentevrye studielenings
terugbetaal het (R21,3 miljoen).
Die HHS het R232 miljoen oor die afgelope 10 jaar in ongeveer 6 000 studente se studies belê.
“Ons werk hard daaraan om die Helpende Hand Studietrust se platform se waarde tot R1 miljard teen 2030 uit te brei, en ons is dankbaar vir die groot vordering wat ons hierdie jaar kon maak,” het Pieterse gesê.
Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, het tydens die konferensie die belangrikheid van opleiding uitgewys, en hy het gesê finansies moet nie in die pad van ʼn student wat wil studeer, staan nie.
“Opleiding is ʼn belegging met ʼn lewenslange opbrengs vir ʼn land. Dis die veiligste belegging met die hoogste opbrengs wat daar is,” het hy gesê.
Hannes Noëth, Solidariteit Helpende Hand se uitvoerende direkteur, het gesê die werkloosheidsyfer in Suid-Afrika is die hoogste nog en die statistieke is baie negatief.
“Een van die kragtigste maniere om werkloosheid hok te slaan, is deur middel van opleiding. Daarom is Helpende Hand baie dankbaar dat ons die R50 miljoen-kerf in 2021 verby kon steek. Dit is ʼn eerste keer in ons geskiedenis. Ons gaan van krag tot krag met die Studietrust wat stukkie vir stukkie en student vir student ʼn volhoubare verskil maak,” het Noëth gesê.
Hy het gesê om ʼn student te bemagtig om te studeer, is baie meer as om net geld te verskaf. “Dit is om ʼn toekoms te verseker. Dit is om te verseker dat daar ʼn pad uit armoede is. Dit is om te verseker daar is ʼn gesin, gesinne én geslagte wat deur so ʼn besluit geraak word. So daarom is die bestuur van
die Studietrust en hierdie mylpaal wat bereik is, vir ons werklik kosbaar,” het Noëth bygevoeg.

 

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button