NewsNews

Appélhof moet nou sê óf verbruikers só gestraf kan word

Appélhof moet nou sê óf verbruikers só gestraf kan word

 

‘n Volbank appélregters het Dinsdag uitspraak voorbehou in die appélsaak tussen Eskom as applikant, die Vaal River Development Association (VRDA) en die Lekwa Belastingbetalersvereniging as respondente, in dié partye se kragstryd oor gedwonge munisipale beurtkrag.

Die appélsaak is uiteindelik Dinsdag, 23 November virtueel in die Bloemfonteinse Appélhof deur appélregters Dambuza, Govin en Van der Merwe, en waarnemende appélregters Meyer en Khoele aangehoor.

Dit volg nadat die hof in Junie vanjaar beslis het dat die vroeëre tussentydse bevel deur waarnemende regter Anthony Millar, wat Eskom en die Ngwathe munisipaliteit verbied het om gedwonge munisipale beurtkrag vir Parys toe te pas, die uitwerking van ‘n finale bevel gehad het, in die lig van Eskom se appél teen die Millar-bevel. Dit het in effek beteken dat die bepalings van die vorige bevel opgeskort is tot die appélsaak aangehoor is.

Die uitspraak van Dinsdag se appélverhoor sal sodra dit beskikbaar is, aan die partye voorsien word, het Lou van Wyk, opdraggewende prokureur vir die VRDA aan Gazette gesê. Verbruikers sal dan eers weet of die hof ‘n stokkie sal steek voor strafbeurtkrag, veral in wanbetalende munisipaliteite waar verbruikers aan die kortste ent trek wanneer die toegelate maksimum gekontrakteerde elektrisiteitsvoorsiening (NMD) bereik word.

Parys se gekontrakteerde elektrisiteitsvoorsiening (NMD) is meer as tien jaar laas aangepas ten spyte van dorpsuitbreiding en kommersiële ontwikkeling wat die vraag na elektrisiteit drasties verhoog het. Parys se jarelange kragstryd weens sy enorme agterstallige skuld aan die kragreus, is egter in 2020 op die spits gedryf toe sakelui en inwoners van Parys swaar gebuk gegaan het onder gedwonge munisipale beurtkrag wat gelyklopend met nasionale Eskom beurtkrag toegepas is.

Dit het inwoners met tye vir tot agt ure sonder krag gelaat.

Hoewel daar na waarnemende regter Millar se bevel danksy kragbesparings meerendeels daarin geslaag kon word om munisipale beurtkrag af te weer, is dit by geleentheid weer vanjaar toegepas, juis in ‘n tyd toe ysige wintertemperature gevoel is.

Adv. Danie Wijnbeek het toe in die saak wat vroeër deur waarnemende regter Millar aangehoor is, namens die applikante aangevoer dat Eskom se enigste risiko finansieel is, terwyl ‘n gemeenskap wat aan die plaaslike owerheid betaal, swaar deur munisipale beurtkrag geraak word.

Daar is gewys op die besoedelings- en gesondheidsgevaar wanneer rioolpompe en waterpompe nie werk nie, en rou riool in die Vaalrivier beland. Wanneer pompe nie werk nie, veroorsaak dit ook watertekorte in die dorp, en was kragonderbrekings reeds die rede waarom fabrieke en ondernemings uit gebiede onttrek.

In Dinsdag se appélverhoor het adv. Shangisa (SC) namens Eskom die kragreus se saak gestel ten opsigte van die NMD, Eskom se belang vs die belang van verbruikers, die outoriteit en magte van Eskom, en die verskeie interpretasies daarvan, asook die uitspraak van waarnemende regter Millar.

Adv. Shangisa het in sy argument verduidelik dat NMD juis ingestel is om Eskom-toerusting te beskerm, maar kon nie antwoorde gee oor waarom Eskom in die verlede nie munisipaliteite se krag afgesny het wanneer die toegelate perk oorskry is nie.

Dit terwyl boetes weens oorskryding juis inkomste vir Eskom kon inbring.

Daar is prominent verwys na die Resilient eiendomsgroep se waterskeidingsaak teen Eskom waarin elektrisiteit van betalende sakelui en ander gebruikers in Musina in 2018 en 2019 weerhou is ook weens die plaaslike munisipaliteit se versuim om geld aan Eskom oor te betaal.

Die appélhof het in Desember 2020 in die Resilient-groep se guns beslis dat Eskom nie krag kan sny van betalende kliënte as strafmaatreël vir wanbetalende munisipaliteite nie.

Waarnemende appélregter Meyer het adv. Shangisa spesifiek uitgevra oor die situasie in Ngwathe waar die kragtoevoer gesny is na 95% van die NMD gebruik is, nadat daar vir jare toegelaat is dat die NMD oorskry is, en die munisipale raad herhaaldelik sedert 2011 onsuksesvol was in sy aansoek om die NMD te verhoog. Regter Dambuza het Shangisa op haar beurt gevra om uit te brei oor alternatiewe dispuutoplossings – eerder as beurtkrag en kragonderbrekings.

Adv. Shangisa het in antwoord hierop verwys na die groot aantal onwettige aansluitings in beide Ngwathe en Lekwa, en die ontploffing in die Eskom-substasie in Parys in 2019 weens oormatige verbruik, wat Eskom genoop het om die besluit te neem om sy toerusting te beskerm.

Adv. Herman van Eeden (SC) het in sy argumente namens die Vaal River Development Association en Lekwa Belastingbetalersvereniging die belangrikheid van die aanhoor van die saak voor die appélhof beklemtoon met verskeie ander munisipaliteite wat hulself in soortgelyke situasies bevind waar beurtkrag van tyd tot tyd toegepas word met tye waar daar tot agt ure per dag beurtkrag was. Hy het ook gewys op die feit dat Ngwathe se NMD vir jare oorskry is, en Eskom dit toegelaat het omdat boetes teen oorskryding groter inkomste vir die kragreus beteken het.

Daarna het Eskom egter sonder enige kennisgewing aan die publiek en die verbruiker die NMD verminder na 95% van die vasgestelde NMD wat sedert 2009/2010 toegepas is. Dit ten spyte van geweldige gevolge van die besnoeiing van krag op infrastruktuur, gesondheid, ekonomiese gevolge, asook op die Vaalrivier as belangrike bron van lewe.

Dit het die appélregters genoop om die vraag te vra dat wanneer daar tussen staatsorganisasies dispute verklaar word, dit tussen hulle uitgeklaar moet word, in plaas van in howe, juis omdat die publiek geraak word deur sulke ingrypende besluite.

Die appélregters het Shangisa gevra wat die regsposisie van inwoners en gebruikers is in die geval?

Daar is verwys na die hofbevel van 2014 wat die VRDA verkry het vir die instelling van ‘n taakspan wat ‘n omkeerstrategie moes toepas maar wat jammerlik nooit van die grond af kon kom nie. Ook die gebrek aan ‘n openbare deelnameproses vir die verhoging of verlaging van die NMD.

Adv. Van Eeden het sy argumente afgesluit deur die appélregters te wys op die belangrikheid van beskerming van die publiek teen eensydige besluitneming van staatsorganisasies wat in dispuut is sonder in ag neming van die publiek wat hul rekeninge stiptelik betaal en dan die slagoffers van sulke besluite word.

Wat egter duidelik was uit Dinsdag se hofsitting was dat ongeag die uitspraak, daar ‘n ernstige wil tot samewerking tussen Eskom, plaaslike en provinsiale owerhede en plaaslike gemeenskappe sal moet wees, om werkbare oplossings te kry in dispute soos hierdie.

Dit sal ‘n verandering in benadering van ‘n outoritêre uitgangspunt tot dienslewering aan die betalende verbruiker verg, veral waar munisipaliteite duidelik nie die mas opkom om enorme skuldrekenings en hul lopende maandelikse verbruiksrekening te kan betaal nie.  

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button