News

Orkes voer 12-jarige se komposisie uit

Orkes voer 12-jarige se komposisie uit

 

 

 

‘n Twaalfjarige leerling van Laerskool Mooirivier, Nico Smit, het verlede week hoofnuus gehaal toe sy komposisie deur die Noordwes-Universiteit simfonieorkes uitgevoer is. Nico was baie opgewonde om te sien hoe professionele musikante sy musiek speel.

 

Die musiekstuk, Battle Cry, het hy gekomponeer met ‘n oorlogsfliek in gedagte. Dié talentvolle jong man weet al klaar dat hy eendag musiek vir films wil komponeer. In die uitvoering kan jy hoor hoe soldate marsjeer, veg en uiteindelik wen. Hy het verlede jaar genoeg tyd gehad om tydens die Covid-19 inperkingstydperk aan sy komposisie te werk. Nico se ongelooflike prestasie kan toegeskryf word aan sy natuurlike talent, ouers wat hom ondersteun en die regte musiekopleiding. Hy is al baie vroeg aan musiek blootgestel toe sy ouers, Nico (sr.) en Trudie, hom vir Kleuterklassiek ingeskryf het. ‘n Bekende violis, Izelle Claassen, bied dié musiekprogram vir kleuters aan om hulle aan verskillende klassieke musiekinstrumente bloot te stel.

 
 

Nico het later op vyfjarige ouderdom by Izelle begin vioolles neem. Hy het later ook by Truida van der Walt, voormalige musiekdosent aan die NWU, klavier by sy repertoire gevoeg. “Ek het reeds vroeg gesien dat Nico baie in musiek belangstel. Hy is ‘n besonderse kind en ‘n ideale leerling wat nuuskierig is en lus is om te leer,” vertel Izelle.

 
 
 Nico Smit en André Oosthuizen. Foto: Venessa van der Westhuizen
Izelle Claassen en Nico Smit. Nico neem al van vyfjarige ouderdom vioolles by Izelle. Foto: Venessa van der Westhuizen

Sy het hom later aangemoedig om sy eie liedjies te skryf en sy kon sien dat hy dit baie geniet het. Nadat sy ouers Izelle genader het om Nico ook meer oor komposisie te leer, het Izelle die skrander jong musikant na André Oosthuizen, musiekdosent en orkesdirigent aan die NWU, verwys. “Omdat hy musiek so ernstig opneem, wou ek hê hy moet van die begin af die regte leiding kry,” sê Izelle. Nico neem al vir drie jaar komposisielesse by André en het al musiek vir viool, klavier, fluit, orrel en harp gekomponeer. As violis in die Noordwes-jeugorkes wil hy graag nog meer instrumente bemeester. Gelukkig ruim hy darem ook ‘n bietjie vrye tyd in en geniet hy dit om na Marvel films te kyk. Hy het ook al die Star War films gesien. Wie weet, dalk komponeer hierdie super talentvolle musikant dalk nog filmmusiek vir die volgende Captain America. Diegene wat graag aanlyn wil luister en kyk hoe die NWU-simfonieorkes Nico se “Battle Cry” van 31 minute uitvoer, moet die volgende internetskakel gebruik: https://www.facebook.com/NWUKunsteArts/videos/588249429062339/?extid=WA-UNK-UNK-UNK-IOS_GK0T-GK1C.

   

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button