![](https://images.caxton.co.za/wp-content/uploads/sites/116/2021/11/20211122_102040-2-417x470.jpg)
Die 10-jarige Rihané Downey, ‘n tuisskool leerder van Parys, het die spogprestasie behaal om as kategoriewenner vir poësie graad 4 in vanjaar se FAK Internasionale Afrikaanse ekspo aangewys te word.
Sy het ‘n algehele punt van 92% gekry vir haar gedig met die titel, Boekewêreld. Die kommentaar op haar gedig deur die beoordelaars: “Rihané verstaan iets van hoe ‘n gedig soms dinge goed moet kan opsom. Sy kry dit reg om verhale sommer in ‘n paar woorde te sit. Ongelooflik.” Rihané het ook ingeskryf vir voordrag en behaal daarmee vir twee afsonderlike stukke onderskeidelik 90% en 86%.
Hier is Rihané se gedig:
Boekewêreld
Wanneer ek gaan sit
En my neus land in ‘n boek.
Dan verdwaal ek in my boekewêreld
Ja, vergeefs sal Ma my soek.
Saartjie is ‘n rabbedoe
Met krulle op haar kop.
Die drie Muskiete is ondeund
Hul beland saam in die sop.
Trompie en sy Boksombende
Is moeilikheid se maat.
Hulle baljaar te lekker saam
As avontuur met hul praat.
James bly in ‘n perske
En meneer Wonka bietjie mal.
Sophie speel met reuse
Uit die pen van Roald Dahl
Dr. Seuss hou van katte
Want die kat kom kuier weer.
Hy eet groen ham en eiers
Selfs dit kan my nie keer.
Tannie Alba Bouwer
Skryf stories van ‘n plaas.
Ou Melitie gee nie om
As Alie bietjie raas.
Welkom in my boekewêreld
Die paadjie loop nog lank.
My hart is in boeke geplant
Daar’s woorde wat in my rank.