News

Kyk net dié kunstige Kersbome

Kyk net dié kunstige Kersbome

Stap jy in by Die Kultuurkamer in Parys, val die besondere boeke-boom jou dadelik op. Dit is die kunstige handewerk van Lucia Gericke. Die boeke wat sy gebruik het is spesiaal uitgesoek volgens die Kerskleure en Kerstema. ‘n Ware kunswerk in eie reg vir dié private biblioteek.  

Gaan kyk gerus na Die Kultuurkamer se kunstige boeke-boom. Foto: Verskaf.

Onthou dat Die Kultuurkamer Donderdag, 23 Desember vir die Kersgety sluit en weer op 12 Januarie sal heropen.

Maak gerus ‘n draai waar hulle geleë is in die Klipspruit Mall in Waterstraat, en kry betyds jou boeke vir die Desembervakansie. Of jy nou die karavaan gaan haak of jou stoel iewers op die tuinroete parkeer vir Jan Tuisbly – boeke bring die wêreld na jou voorstoep en laat jou saamreis.

* Ook by Harcourts is daar vanjaar ‘n besondere Kersboom wat by dié onderneming pas. Die boom is die handewerk van Lizette Jordaan en is beslis iets om van naderby te sien.

Hoe lyk jou Kersboom vanjaar?

‘n Kersboom met stowwerige versierings wat jy jaar ná jaar iewers uit ‘n kas uithaal en op lendelam pootjies in die vertrek staanmaak, kan dalk vanjaar plek maak vir iets meer oorspronklik, kreatief en kleurvol, soos wat Parysenaars inderdaad gewys het gedoen kan word. Boonop hoef ‘n Kersboom jou nie veel te kos nie, en kan jy met vindingryke idees uit dit wat jy het in jou huis, spog met ‘n boom waaraan elkeen in die gesin ‘n aandeel kan hê om te maak.

Wat jy ook al gebruik om jou Kersboom te maak – is eenvoudig, dog treffend die sleutelwoorde. Hetsy jy vetplante, hout, karton, draad, blik of ander herwinbare materiaal of selfs foto-versierings gebruik – onthou dat jou versierings ewe belangrik is.

Kies versierings wat pas by die styl of tema van jou boom en onthou minder is dikwels meer as dit by trefkrag kom. Betrek die kinders by idees vir oorspronklike versierings en siedaar – verveelde vakansie ure word dalk net prettige saamwees-tyd in hierdie Kerstyd.  

 

Related Articles

Back to top button