NewsNews

Boeliegedrag ’n werklikheid ook in skole

Boeliegedrag ’n werklikheid ook in skole

Navorsing wat in 2012 deur Unisa gedoen is oor boeliegedrag in skole, het al getoon dat tot 38,4% van die leerders slagoffers van fisieke, en 55,3% van emosionele boeliegedrag was. Byna 3 400 slagoffers was deel van die navorsing. Dit toon ook dat 16,9% slagoffers van boelie op sosiale media soos Facebook, WhatsApp en Twitter was. Van die slagoffers word 32,2% by die skool geboelie, en 29,3% buite die skool.

Die selfmoord van Lufuno Mavhunga (15), ‘n graad 10-leerder van Mbilwi Sekondêre Skool in Limpopo, het die werklikheid van boeliegedrag in skole weer op die voorgrond geplaas. Lufuno het selfmoord gepleeg nadat ‘n video-opname waar sy geboelie en aangerand word, op sosiale media versprei is. Haar aanrander was ‘n meisie – ’n leerder van dieselfde skool, ook 15 jaar oud. Die Parys Gemeenskap Polisiëring Forum en Parys SAPD het die afgelope week weer skole in Parys besoek om ook dié onderwerp aan te spreek.

Gedurende hul besoek by Parys Christelike skool is twee temas voortspruitend uit die ontydige dood van Lufuno aangespreek, naamlik boeliegedrag in skole, en die gevare van sosiale media. Dit is volgens Anne-marie du Toit, Parys GPF-voorsitter, belangrik vir ouers om te besef dat boeliegedrag nie noodwendig net fisies is met ‘n gestamp en gestotery nie.

Dit kan ook verbaal, emosioneel en oor die kuberruimte plaasvind. Dit is ook moontlik dat ‘n onderwyser by ‘n skool hom/haarself kan skuldig maak aan boelie van ‘n kind.

Boeliegedrag kom voor waar iemand met opset en herhaaldelik iemand anders ontstel, bang maak, dreig of seermaak, of iemand anders se eiendom, reputasie of sosiale status skade aandoen. Alle tipes boeliegedrag is gevaarlik en kan langdurige skade veroorsaak. Dit is belangrik vir ouers om die tekens by ‘n kind wat geboelie word, raak te sien. Hoewel hierdie nie die enigste tekens noodwendig is nie, is algemene tekens wat gesien word ‘n skielike weiering om skool by te woon, angstigheid, isolasie van ander leerders, raak moeilik aan die slaap, lae selfbeeld, emosionele verandering, of ‘n verandering in optrede. Jou kind het skielik beserings wat hy nie kan verduidelik nie, of sy punte op skool neem drasties af. Jou kind kla dalk skielik en gereeld oor hoofpyn, maagpyn of ander fisieke probleme.

Dit is belangrik om na jou kind te luister en hom by te staan en te verduidelik dat die boeliegedrag nie sy/haar skuld is nie. Jy moet boeliegedrag onmiddellik aan die skool rapporteer. Om die leerder of sy/haar ouer direk te kontak, mag meer skade doen as goed, en is dit veiliger om deur die skool te werk wanneer die boelie aangespreek word. Indien die geboelie nie stop nie, of die skool tree nie op daarteen nie, kan jy regsadvies inwin, veral waar die geboelie fisiek van aard is. Jy kan dit by jou naaste polisiestasie rapporteer, of die hof nader vir ‘n interdik teen teistering. Jy kan ook ‘n dokter vra vir ‘n verwysing na ‘n opvoedkundige sielkundige.

Onthou dat fisieke boelie ‘n misdryf is (aanranding) en altyd aangemeld behoort te word by die polisiestasie. Kuberboelie sluit enige interaksie oor die internet in waardeur ‘n individu ‘n kind seermaak. Met ander woorde, hul gebruik die internet om ‘n kind te teister, of in die verleentheid te stel, en omrede die kuberspasie soveel groter is, kan kuberboelie soms soveel meer skade aan ‘n jong kind aanrig as een fisiese voorval.

Kuberboelie kan gemaklik plaasvind op enige sosiale media platform, selfs per e-pos, WhatsApp of SMS-boodskappe. Die boodskappe kan òf kwetsende woordeskat gebruik, òf neutrale boodskappe wees wat op gereelde basis aan iemand gestuur word sodat dit op teistering neerkom. ‘n Belangrike voorbeeld van kuberboelie of -teistering sluit in waar ‘n boelie voorgee om iemand anders te wees deur ‘n vals (fake) aanlyn profiel te skep.

Die Parys GPF waarsku ouers dat boeliegedrag aan die toeneem is, veral oor die internet, en dat ouers en onderwysers op die uitkyk moet wees daarvoor.

Related Articles

Back to top button