NewsNews

Oogbesering: Is dit nodig om ’n veiligheidsbril te dra?

Oogbesering: Is dit nodig om ’n veiligheidsbril te dra?

Daar gaan selde ‘n week verby waar oogkundiges nie ‘n oogbesering van een of ander aard sien nie. Oogbeserings is baie meer algemeen as wat mense dink, maar die ironie is dat dit die meeste van die tyd voorkom kon word deur ‘n veiligheidsbril te dra. Een van die beserings is ‘n muurbalbesering. Gelukkig is dit deesdae verpligtend dat muurbalspelers tydens kompetisies ‘n beskermende bril dra, maar ongelukkig voel spelers baie keer dat hulle sonder ‘n bril kan oefen.

Van alle raketsportsoorte is muurbal die gevaarlikste vir die oog omdat ‘n muurbalbal klein genoeg is dat die oogkas dit nie kan keer om die oog vol te tref nie. Die spoed van die muurbalbal is die volgende faktor – dit kan tot 230km/h beweeg en jy kan jou net indink hoeveel skade só ‘n vinnige voorwerp wat die oog vol tref, kan aanrig! Die bal verkort die lengte van die oogbal in ‘n oomblik, maar die effek op die oog kan maande duur. Soms kan iemand maande ná die besering ‘n retinale skeur weens die impak van die bal kry.

Dit is dus baie belangrik dat só ‘n oog vir sowat ses maande na die besering steeds gemonitor word. In baie gevalle is die speler nie so gelukkig om te kan wag en te kyk wat die skade is nie. In sekere gevalle kan die oogballae bars en dit is ‘n groot krisis. Permanente of gedeeltelike verlies van visie kan die gevolg wees. Wat die voorste ‘kamer’ van die oog betref, sien ons probleme soos bloeding in die voorste kamer van die oog, uveïtis wat kan lei tot gloukoom en permanente skade op die senuwee van die oog.

Dit is daarom ten alle tye van kardinale belang om ‘n veiligheidsbril te dra wanneer jy muurbal speel of selfs telling hou bo die baan. ‘n Paar jaar gelede het ‘n speler in Potchefstroom telling langs die baan gehou toe die bal hom op die oog tref en dit laat bars het. Moenie dink dis onnodig of oorbodig om ‘n veiligheidsbril op te sit nie. Dra eerder jou veiligheidsbril.  

 

 

Related Articles

Back to top button