SportSport

Groot motorsport-aksie dié naweek hier

Groot motorsport-aksie dié naweek hier

Die opwinding in vanjaar se South African National Cross Country Series (SACCS) bereik dié naweek ‘n hoogtepunt met die laaste en finale wedren in die reeks – die Toyota Gazoo Racing SA Parys 400, wat Saterdag, 20 November net buite Parys beslis word.

Die wegspring- en eindpunt is soos verlede jaar by die Parys-vliegveld en toeskouers is welkom om die deelnemers hier, sowel as langs die roete te ondersteun.

Nagenoeg 45 motors sal in aksie wees, almal met professionele deelnemers en groot name in motorsport agter die stuur. Vanaf die vliegveld sal daar oor die Parys/Koppies-pad beweeg word af na Inlandsee en dan weer oor die Parys/Koppies-pad onder deur die N1 in die rigting van Weiveld. Van hier word daar verby die Weiveld Boerevereniging-saal beweeg, onder deur die snelweg en dan al langs die R59 terug tot by die Parys-vliegveld. Die roete strek oor 175km wat oor twee rondtes gery word, wat dan in totaal ‘n wedren-afstand van 350km is.

Die roete word jaarliks verander, wat beteken dat deelnemers nie vooraf bekend is met die roete nie. Die wedren sal om 06:30 deur ‘n tydtoets voorafgegaan word, met die amptelike wegspring vir die wedren om 09:00. Wegspring vir die tweede rondte is omstreeks 13:00 en behoort die wedren na verwagting Saterdagmiddag teen 16:00 afgehandel te wees. Toegang vir toeskouers is gratis en daar is kosstalletjies en iets te drinke beskikbaar.

Onder die kosstalletjies is ook ‘n stalletjie van Epilepsie SA se Vrystaat/Noordwes-sentrum wat jy op hierdie manier kan ondersteun as fondsinsameling vir die sentrum. Dit is vanjaar reeds die vierde jaar dat Parys gasheer is vir die wedren, juis omdat die roete oor verskeie plase so gewild is onder renjaers. Maak seker jy mis nie die motorsport-aksie dié naweek nie!    

 

 

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button