
Ngwathe se nuwe DA-raadslede gaan voort met stappe in hul poging om die aantal voltydse raadslede met sewe te verminder om koste te bespaar (Gazette, 11 November 2021).
Die raadslede sê hulle was “verbaas” toe die munisipale bestuur blykbaar nou aanbeveel dat al sewe nie alleen behou word nie, maar dat twee addisionele voltydse raadslede selfs aangestel word.
Een hiervan sou die ANC-sweep wees. “Dis verregaande,” sê ‘n DA-raadslid aan Gazette, “want dit alleen sou byna ‘n driekwart miljoen rand per jaar ekstra kos.” Dit is egter nie seker of die nuwe ANC-koukus die voorstel sal steun nie. Die nuwe stadsraad is nog nie ingehuldig nie.
Intussen ontvang DA-raadslede wye steun vir hul plan om Ngwathe se munisipale stelsel te wysig. Hulle sê ‘n verandering sal miljoene rand bespaar.





