NewsNews

Bekende akademikus en voormalige universiteitsraadslid sterf

Bekende akademikus en voormalige universiteitsraadslid sterf

 

Prof JJD (Klaas) Havenga, ʼn bekende in Potchefstroom, is op 25 Oktober 2021 in die ouderdom van 81 jaar oorlede.

Hy was tot en met sy aftrede in 2000 vir meer as 30 jaar verbonde aan die PU vir CHO, waar hy al sy akademiese kwalifikasie tot op M-vlak met lof verwerf het. Sy PhD-graad het hy in 1973 aan die Vrije Universiteit, Amsterdam verwerf. Prof Havenga was ʼn besonder veelsydige mens: op akademiese gebied was hy aan die PU vir CHO hoof van die departement bedryfsekonomie en dekaan van die Fakulteit van Ekonomiese en Bestuurswetenskappe (vir 20 jaar). Hy was ook lid van die Senaat en Uitvoerende Komitee, lid van die Universiteitsraad (vir 12 Jaar), direkteur van die Nagraadse Bestuurskool en voorsitter van die Instituut vir Toekomsstudies.

 

Hy was die stigter van die Nagraadse Bestuurskool aan die PU vir CHO (in 1979) en was die eerste direkteur daarvan. In opdrag van die Raad van die PU vir CHO ondersoek en ontwikkel hy die eerste uitvoerende bestuursorganisasiestruktuur vir die Universiteit. Hy het meer as 60 professionele en akademiese voordragte gelewer by nasionale en internasionale kongresse en het meer as 50 publikasies rondom aspekte van die ekonomiese en sakewêreld in akademiese en professionele tydskrifte gepubliseer asook ʼn aantal hoofstukke in akademiese boeke. Hy was samesteller van ʼn boek wat die 50ste bestaansjaar van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe se MBA-program en die Sakeskool gedenk. Buite die PU vir CHO was hy behulpsaam met die voorbereiding van ʼn strategiese plan vir die Fakulteit Bestuurswese van die Universiteit van Johannesburg waar hy ook na sy aftrede in 2000 deeltydse buitengewone professor was. Hy was lid van die Advieskomitee van die Buro vir Finansiële Analise aan die Universiteit van Pretoria en het opgetree as eksaminator en assessor vir nasionale en internasionale verhandelinge en artikels. Hy het verder assessering van verskeie departemente van die Universiteite van Stellenbosch, Pretoria en Johannesburg gedoen. Verder was hy vir 6 jaar lid van die Raad van Direkteure van Sakeskole in Suid-Afrika. Hy was ook lid van die redaksionele komitees van 4 Suid-Afrikaanse en 4 internasionale vaktydskrifte.

 
 

Op die nasionale vlak het sy betrokkenheid by die gemeenskap wyd gestrek: Hy was lid van die Ekonomiese Adviesraad van die Premier van die Noord-Wes Provinsie, lid van dié Provinsie se Ekonomiese Ontwikkelings- en Arbeidsraad asook lid van die Streeksontwikkelingsraad. Behalwe vir sy voorsitterskap van die Raad van die Instituut vir Koöperasiewese (vir 5 jaar), was hy ook lid van beide Suidwes Agric en die Noord-Transvaalse Koöperasie (NTK) se Raad, Menslike Hulpbronkomitee en Ouditkomitee. Hy het inderdaad ʼn belangrike rol in die koöperasiewese gespeel. Hy was ook lid van die Raad van die Boskop-Opleidingsentrum. Ook internasionaal het prof Havenga sy invloed wyd laat geld, nl as President en lid van die Raad van Direkteure van die International Council for Entrepeneurship and SME’s in Washington, VSA, lid van die Adviesraad vir Internasionale Samewerking (DISOP) Brussel, België en lid van die Suid-Afrikaanse Adviesraad van die Internasionale Arbeidsorganisasie (ILO, Geneve) insake opleidingsprogramme vir medium- en kleinsake in Suid-Afrika. Hy het ook as gasdosent opgetree by verskeie universiteite in Switserland, die VSA, Duitsland, Nederland, Singapoer en Australië. Hy het verskeie nasionale en internasionale toekennings ontvang. Prof Havenga is ʼn welbekende skilder van veral land- en dorpskappe en hy het al verskeie uitstallings van sy werke gehou. Van sy skilderye is al te vind in Duitsland, Frankryk, Nederland, die VSA en Australië. Hy het ook al ʼn digbundel gepubliseer. Hy word oorleef deur sy vrou, Annette, sy dogter, Tanya, en 4 kleinkinders.

 

 

 

   

Related Articles

Back to top button