News

Kettingbotsing op N1: Noodvoertuie bots onderweg na botsingstoneel

Groot kettingbotsing in digte rook op N1

‘n Botsing waarby nege voertuie betrokke was, het vanmiddag net na 14:00 op die N1 naby Koppies gebeur toe rook van ‘n veldbrand oor die snelweg gewaai en sig ernstig belemmer het.

Die brand het reeds vanoggend, Saterdag 13 November om 07:00 teenaan die N1 begin te midde van ‘n baie sterk noordooste wind.

Hoewel boere van onder meer die Vredefort- en Koppies-distrikte,  bygestaan deur lede van  Vaal  Eden Brandvereniging, probeer het om die brand te keer, het dit eers in ‘n westelike rigting gebrand tot ongeveer 11:00 vanoggend. Die wind het toe gedraai en vlamme in ‘n noordwestelike rigting begin jaag en daarna weswaarts en weer terug na die N1, met sterk rukwinde.  Telkens as die vlamme gekeer is, het dit  weer van agter begin opvlam en verwoed voortgebrand.  

 

 

 

Die ongeluk het gebeur toe dit begin terugbrand het na die snelweg, en die N1 versluier was onder die digte rookmassa. Voorlopige inligting wat met die skryf van die berig ontvang is, dui daarop dat 1 persoon in die botsing oorlede is,  een kritiek beseer en per noodhelikopter na die Unie-hospitaal vervoer, terwyl vier ander pasiënte beseer en per ambulans vervoer is.

Met die skryf van hierdie berig was nooddienste nog op die toneel besig met opruimingswerk, en verkeer van die N1 herlei via Parys. Die brand self is eers teen ongeveer 15:30 onder beheer gebring, en is heelwat weiding in die brand vernietig.

  • ‘n Verkeersvoertuig en die SUV voertuig van Community Care wat met die hulp van die sakegemeenskap van Parys en borge gekoop kon word in Desember 2020, was net na 14:00 in ‘n botsing betrokke by Welkom-kafee by die kruising van Water- en Loopstraat, terwyl beide die noodvoertuie onderweg was na die N1-botsing.  Beide insittendes van die voertuie is nie ernstig beseer nie.

Talle Parysenaars kan getuig van die vriendelike gesigte van nooddienswerkers van Community Care wat oor die afgelope tien jaar in tye van mediese nood daar was om te help. Professionele mense wat vrywillig die diens gratis in hul eie tyd wanneer hulle nie aan diens is nie, aan die gemeenskappe van Parys, Tumahole, Vredefort, Mokwallo, Lindequesdrift en omliggende distrike lewer  – sonder enige vergoeding.

Die beskadigde reeaksievoertuig van Community Care.

       

Related Articles

Back to top button