Só werk die samestelling van ’n munisipale raad
Só werk die samestelling van ’n munisipale raad
‘n Munisipale raad word deels (50%) saamgestel uit wyksraadslede en deels (50%) uit proporsioneel verkose raadslede. Die berekening om te bepaal hoeveel proporsionele kandidate ‘n spesifieke party verkies gekry het, geskied deur al die stemme wat die party op beide die wyk stembriewe en proporsionele stembriewe gekry het, bymekaar te tel, en dan te bepaal watter persentasie van die totale aantal stemme uitgebring ‘n bepaalde party verkry het. ‘n Party wat dan byvoorbeeld 40% van die totale stemme (op beide stembriewe saamgetel) verkry het, kry ook 40% van die beskikbare setels vir proporsionele raadslede. Soos met nasionale verkiesings wys partye intern hul proporsionele raadslede in volgorde van voorkeur aan.
Kiesers moet dus in gedagte hou dat jy jou eie stem, wanneer dit by proporsionele raadslede kom, eintlik neutraliseer indien jy op die eerste stembrief vir een party en op die tweede vir ‘n ander party sou stem. Met die derde stembrief wat kiesers met vanjaars se munispale verkiesing ontvang het, is die deelnemende partye se verteenwoordiging in die Distriksraad bepaal. Raadslede vir die Distriksraad word slegs op proporsionele basis verkies. Die stembriewe vir partye se verteenwoordiging in die Distriksraad het gevolglik nie enige kandidate se name nie, maar slegs die embleme van die deelnemende partye.
’n Party verkry setels in die Distriksraad ooreenkomstig die persentasie wat die totale aantal stemme op hom verenig verteenwoordig, teenoor die totale stemme uitgebring. Weer eens wys partye intern hul kandidate in voorkeurvolgorde aan.