News

Ouerpaar sterf saam

Ouerpaar sterf saam

Vir 43 jaar het hulle die pad saam geloop, van skoolliefde tot aan die einde. Twee mense wat mekaar bitter lief gehad het. Maar min het kon dink dat Saterdag 6 November, ook Sakkie en Dalene Schlebusch se laaste rit saam sou wees.

’n Dag waarna so lank uitgesien is om hul seun, Zack, op die lughawe te gaan haal. Net voor 05:00 die oggend het die Fortuner waarmee die Schlebusch-egpaar, Zack se verloofde, Carmen Strydom, en Zack se dogtertjie, Zay-lene, op pad was na die lughawe, gerol en is die Schlebusch-egpaar op die toneel oorlede.

 

Sakkie en Dalene Schlebusch. Foto: Verskaf

 

Carmen was teen Maandag steeds in die Unie-hospitaal in Alberton en Zay-lene in die Clinton hospitaal waar hulle aansterk. Carmen is  Maandag geopereer vir die beserings aan haar arms.  

 

Carmen Strydom wat vroeër ‘n onderwysassistent by Parys Primêr was. Sy sterk tans in die Unie-hospitaal in Alberton aan. By haar is klein Zay-lene wat in die Clinton-hospitaal aansterk. Foto: Verskaf

Sakkie (62) en Dalene (60) was vir 40 jaar in Parys gevestig.

Elke huis wat hulle ooit besit het, het hulle self opgeknap en/of aangebou. Só was die opknappingswerk aan hul huise, gholf en visvang van die dinge waarvoor hulle so lief was om te doen.

Sakkie was ’n meganiese ingenieur van beroep, en vroeër jare ’n kranige sportman wat geboks het en vir Parys se dorpspan rugby gespeel het. Dalene was ’n tuisteskepper wie se hande vir niks verkeerd gestaan het nie.

Hulle het geleef vir hul kinders, en hul bygestaan en gehelp waar hulle kon. Twee mense wat nie altyd saamgestem het nie, maar wie se liefde vir mekaar oor jare ’n onlosmaakbare band was.

Dankie vir elke oproep, elke boodskap, elke drukkie of gebaar van meelewing uit die gemeenskap waarmee daar na die gesin en die familie uitgereik is.

Sakkie en Dalene sal met net die mooiste herinneringe onthou word deur skoonma/ma Erika, hul broers, susters, swaers en skoonsusters en hul kinders en kleinkinders – Trix en Riaan en hul kinders Allison, Gabby en Robyn, Sue-Anne en Rudi en hul kinders Kayla en Hanru, Dalene en kinders Annebelle en Chereé, Yolandi en Tiaan en hul kinders Christian en Alexander, Zack en Carmen en kinders Zay-lene en Noah, en jongste dogter Chanté.  

 

 

 

Related Articles

Back to top button