NewsNews

Land se regstelsel en veiligheid het boere gefaal: Aanval nie rassisties

Land se regstelsel en veiligheid het boere gefaal: Aanval nie rassisties “Die dood van twee vermeende plaasaanvallers kort nadat hulle deur boere in hegtenis geneem is ná ’n  aanval op die 73-jarige mnr. Loedie van der Westhuizen, word ten sterkste deur die boeregemeenskap van Parys afgekeur, maar dié voorval was nie rassisties nie.” “Boere in …

Land se regstelsel en veiligheid het boere gefaal: Aanval nie rassisties
“Die dood van twee vermeende plaasaanvallers kort nadat hulle deur boere in hegtenis geneem is ná ’n  aanval op die 73-jarige mnr. Loedie van der Westhuizen, word ten sterkste deur die boeregemeenskap van Parys afgekeur, maar dié voorval was nie rassisties nie.”
“Boere in die distrik het ’n goeie verhouding met hul plaaswerkers en misdaadsyfers in die distrik is relatief laag.”
Só het Kobus Dannhauser, voorsitter van Parys Landbou (Weiveld Boerevereniging) vandeesweek aan Gazette gesê in reaksie op die voorval wat vroeër vandeesmaand wêreldwyd opslae in die media gemaak het.
Van der Westhuizen is op die plaas Biesiesbult in die Weiveld-distrik oorval. Sy aanvallers wou geld van hom hê en het nadat hy die paniekknoppie gedruk het, te voet gevlug sonder om enigiets te vat. Hy is met die agterkant van ’n vuurwapen geslaan en het ook beserings aan sy arms opgedoen.
Verskeie boere het op die noodroep ná die aanval gereageer om hulp te verleen, waarop die twee mans deur die boere in hegtenis geneem en aan die polisie oorhandig is. Die mans was ernstig beseer en het kort daarna gesterf nadat hulle per ambulans na Parys en die Pelenomi hospitale onderskeidelik vervoer is.
Nagenoeg 100 boere is lid van Parys Landbou wat ook by die Vrystaatse Landbou Unie inskakel. Die tragiese gebeure van 6 Januarie het gelei tot vele uitlatings in die media wat die boeregemeenskap geweldige skade berokken het, sê Dannhauser. “Baie hiervan deur mense wat nie deel van die boeregemeenskap is nie en nie met gesag namens boere en hul plaaswerkers kan praat nie.”
Dannhauser het hier spesifiek verwys na die Vierkleur vlae wat op 14 Januarie in die straat voor die hofgebou gesien is en publieke uitlatings. In ’n openhartige onderhoud met Gazette namens boere van die distrik sê hy dat van Parys Landbou en Vrystaat Landbou Unie kant dit baie duidelik gestel is dat boere nie die dag met die borgaansoek by die hof sou wees nie, maar slegs naby familie wat die beskuldigdes wou ondersteun. Diegene wat wel by die hof was, was daar in persoonlike hoedanigheid en nie as verteenwoordigers van boere in die distrik nie. Boere het by die vliegveld buite die dorp byeen gekom vir ’n gebedsdiens.
Dannhauser het hom sterk uitgespreek oor die ware verhouding tussen boere en hul plaaswerkers in die distrik, deur te sê dat Parys Landbou nog altyd ’n  voorloper was in die bevordering van goeie werksverhoudinge. Juis daarom sê hy, hoor jy nie van stakings of wegbly-aksies nie, omdat moeite gedoen word om ’n  verhouding van wedersydse respek en vertroue tussen die boer en sy plaaswerkers daar te stel.
Hy sê boere is by verskeie opheffingsaksies in Parys en Tumahole betrokke, waaronder ook die Vrye Mark Stigting se Khaya Lam-projek waarmee titelaktes vir mense geborg word wat nog nooit vantevore op eienaarskap van ’n titelakte kon aanspraak maak nie. Hy sê selfs opkomende boere in die distrik word juis nou in hierdie droogte ook deur van die boere met voer gehelp.
Sou bevind word dat die aanval op Van der Westhuizen ’n geïsoleerde loongeskil sou wees soos bespiegel word, sê hy dat daar kanale is om te volg as plaaswerkers griewe of probleme sou hê. Hy sê boerderye word jaarliks deur die Departement Arbeid ondersoek, juis om te kyk dat arbeidsaangeleenthede in plek is en word selfs onderhoude met plaaswerkers gevoer.
As die departement hier in gebreke bly om ’n toesigrol te vervul, moedig hy plaaswerkers aan om nie stil te bly nie, maar hul saak te stel by die departement.  “Inherent beteken dit dat werkers die korrekte prosedures vir arbeidsaangeleenthede moet volg en nie self moet probeer om die werkgewer te konfronteer nie”, sê Dannhauser.
Hy stem nie saam met die berigte wat die wêreld ingestuur is dat boere in vrees leef nie, maar sê dat boere vandag heel tyd op hul hoede moet wees.
“Boere kan nie meer vandag op die polisie staatmaak vir beskerming nie en die land se regstelsel het sy landsburgers gefaal. Ons is honderd persent verantwoordelik vir ons eie veiligheid,” sê hy. Hoewel Dannhauser sê dat misdaadsyfers in die Weiveld-distrik  betreklik laag is, meen hy dis juis te danke  aan boere se eie betrokkenheid by veiligheid.
“Daar is nie rassistiese boere in ons omgewing nie.
“Ons werk elke dag skouer aan skouer met ons werkers. Rassiste moet jy met doringdraad uitmekaar hou.”
Maar wat die betrokke dag skeefgeloop het toe die twee mans gesterf het, kort nadat hulle deur die boere in hegtenis geneem is, skryf Dannhauser toe aan mense se emosies wat handuit geruk het, veral wanneer dit kom by plaasmoorde/grondbetreding.
Hyself was die afgelope week weer in ’n situasie waar mense onwettig sy grond betree het om pale te kry.
Die dag waarop Loedie van der Westhuizen op sy grond aangeval is het die polisie wel vinnig reageer, meen hy, maar dit het al gebeur dat daar tot drie ure in die verlede gewag is vir die polisie. “As gevolg van die polisie se trae reaksie is boere dikwels genoodsaak om self arrestasies te doen.”
“Daar is altyd die moontlikheid van konflik as mense se emosies die oorhand kry. Oortreders het nie meer ’n  vrees vir die gereg nie en die kans is daar dat as jy die polisie ontbied, hulle nie sal kom nie. Landelike veiligheid kry nie meer prioriteit nie, veral nie in Parys nie,” sê Dannhauser.
Hy sê Parys Landbou wil graag hê dat geregtigheid moet geskied oor wat die dag op sy buurplaas gebeur het. Hy sê die organisasie weet dat dit nie ’n  beplande daad was nie, maar opgekropte frustrasie en emosies wat eenvoudig oorgekook het.
Gerugte van ’n selfoonvideo wat gemaak is van die insident, het hy ook gehoor, maar kan nie die bestaan van die video bevestig nie.
Maar dat daar lesse geleer is, is nie altemit nie. Kundiges se hulp is reeds gevra om die boere in die distrik te kom toespreek oor wat hul regte en die korrekte optrede in ’n  misdaadsituasie is.
Dannhauser het boere gemaan tot kalmte, veral in die lig van die volgende hofverskyning van die vier beskuldigdes, Anton Loggenberg, Boeta van der Westhuizen en Johan Celliers jr. en sr. op 12 Februarie. Al vier is tans uit op borgtog van R5 000 elk.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button