NewsNews

Jou eerste gedagte – is die kinders veilig – en dan daardie onbeskryflike stilte

"So iets wil ek nooit weer beleef nie"

Dinsdag 2 November was die speelterrein van die Sarel Cilliers gekombineerde skool weer die ene lewe. Kinderlaggies wat jy oral hoor. Hulle is terug. Ná ‘n week wat dit stil was by die skool, maar oral sien jy die merke van daardie dag toe die wind sy pad deur die skool geloop het. Stukke dak en plafon uitgeruk en vensters gebreek het.

Herman Vogel, waarnemende hoof van die skool onthou soos gister die dag net ‘n week gelede – dit was 25 Oktober, ‘n Maandag. Op Maandae kom die skool laat uit – 14:45

Die klok het nog nie gelui nie maar buite het die kinders opgewonde geskree en lawaai. Hulle was op pad huis toe. Hy het gewonder  hoekom die kinders so vroeg buite is.

Die volgende was daar die geluid van reën  en eers klein haelkorrels wat geval het. En toe die wind. Hy het die lawaai gehoor en iets  wat val. Deur sy kantoorventer het hy stukke dak sien dwarrel deur die lug, gefrommel soos papier, teen die saal vas op die stoepe, oral, selfs in die bome het dakplate en stukke hout gehang.

Herman het na buite gehardloop – sy eerste gedagte – waar is die kinders, die onderwysers. Hy het naarstiglik op die skoolgroepe begin vra. Saam met nog twee manspersoneelllede wat nog op die terrein was, Albert Zitzke en Kallie van den Berg, het hulle van klas na klas gehardloop, gesoek. Dit was net ‘n Gods genade.

Waar dit die kinders gewoonlik ‘n halfuur vat om te ontruim, was daar teen 15:00 nie ‘n kind op die terrein nie. In daardie enkele minute vandat hy hul opgewonde op die terrein gehoor het, en die geweld van die storm die skool getref het, was die hele skool ontruim. Die enkele skoonmakers op die terrein het in ‘n klaskamer skuiling gesoek. Drie personeellede wat nog daar was het in die personeelkamer geskuil.

Na die aanvanklike geraas soos wat die graad R-blok, die sangklas en store se dakke afgeruk is, en die helfte van die dak van die drie-verdieping gebou, was daar die verskriklike stilte. ‘n Bangmaak stilte wat hy nooit sal vergeet nie.

In 28 jaar in die onderwys het Herman nog nooit so-iets beleef nie. “Ek wil dit nooit weer beleef nie.” “Maar ons is ok. Die skool is van Dinsdag af weer oop. Die graad R tot graad 5-leerders is voltyds  terug, terwyl graad 6,7, 8, 9, 10 en 11 op rotasiebasis skoolgaan soos voor die derde kwartaal toe almal voltyds terug was. Die matrieks skryf eksamen.”

Daar sal na verwagting eers volgende jaar met herstelwerk by die skool begin kan word maar alle skoolbedrywighede gaan normaal voort. Die departement van onderwys het reeds ‘n skadeberaming kom doen. Derduisende se skade.

Maar dit was ‘n genade-dag. ‘n Genade dat die onderwysers die storm sien kom het. Genade-minute wat hulle die kinders vroeër laat loop het om by die huis te kom. Dak, plafon en ruitskade kan reggemaak word.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Herman het in Januarie die pos as waarnemende hoof van die skool met sy 750 leerlinge van graad R tot graad 12 aanvaar. Voorheen was hy onderwyser by die Weiveld Landbou- en Hotelskool en toe adunkhoof by Fakkelskool in Sasolburg.

 

As mense skryfbehoeftes vir die skool wil bydra kan gereël word dat dit opgetel word. Stuur ‘n whatsapp na 060 690 7591 as jy kan help.   

 

   

Related Articles

Back to top button