Oostenryker lei musiekkursus in die Koepel
Oostenryker lei musiekkursus in die Koepel Aan die einde van Januarie vind ’n kursus in Vroeë Musiek aan die Koepel Kunstesentrum op Deelfontein plaas. Die dirigent, sanger en skuiftrompetspeler, Norbert Brandauer van Wene in Oostenryk, lei die projek waaraan sangers en instrumentaliste van Potchefstroom, Johannesburg en Pretoria meewerk. Brandauer is een van die dirigente van …
Oostenryker lei musiekkursus in die Koepel
Aan die einde van Januarie vind ’n kursus in Vroeë Musiek aan die Koepel Kunstesentrum op Deelfontein plaas. Die dirigent, sanger en skuiftrompetspeler, Norbert Brandauer van Wene in Oostenryk, lei die projek waaraan sangers en instrumentaliste van Potchefstroom, Johannesburg en Pretoria meewerk.
Brandauer is een van die dirigente van die Weense Seunskoor. Die program bestaan hoofsaaklik uit werke van Heinrich Schütz, die belangrikste Duitse komponis uit die Vroegbarok, terwyl werke van sy leermeester Giovanni Gabrieli, en die Nederlandse Renaissance-komponis, Orlando di Lasso, ook tot gehoor kom.
Die oogmerk van die Vroeë Musiek-beweging is om musiek uit vorige eeue op die instrumente en met die klankideaal en uitvoeringsvoorstellinge van daardie tyd uit te voer. Die strykers speel dus op instrumente wat met dermsnare bespan is, en gebruik barokstrykstokke.
’n Besondere interessantheid is die gebruik van ’n stel barokskuiftrompette wat spesiaal vir hierdie geleentheid uit Duitsland aangekoop is. Dit is die enigste van dié instrumente in die land.
Die afsluitingskonsert van die kursus word in die Etienne Rossouw-teater in Sasolburg aangebied, om 15:30 op Sondag 7 Februarie. Kaartjies kan by die deure gekoop word. Meer inligting is op www.deelfontein.co.za beskikbaar, en besonderhede oor die konsert by www.ertsasolburg.co.za.


