
Om die prag tuin van die Najaarsrus Tehuis vir Bejaardes op ‘n Saterdagaand getooi te sien met liggies. Potjies wat prut met van hoender tot beesstert en skaapafval, en die klank van talentvolle sangers op die opelug-verhoog, was ‘n bederf waarna nie net die bejaardes van dié tehuis al lank uitgesien het nie.
Dit was salf vir die siel vir baie ná maande van nie-normaal nie. Tyd wat kinders saam met hul bejaarde ouers die aand kon spandeer aan die keurig gedekte tafels.
Tyd vir uitkom om saam die mooi en lekker te kon geniet.
‘n Aand wat met twee woorde opgesom kon word – stylvol, genotvol
Die Recitar Melodia opelugkonsert en Potjie-aand saam met Stefan Louw, Truter Odendaal en Manie Booyens, is gehou om fondse in te samel vir Najaarsrus wat soos baie ander tehuise ook in hierdie pandemie-tyd swaar geraak is met baie fondsinsamelingsprojekte wat skielik tot ‘n halt geroep is.

Dankie vir hulle wat die smaaklike potjies laat prut het en die meer as 100 gaste wat die aand saam geniet het. Die aand was die inisiatief van Piet Booyens wat seker gemaak het dat alles tot in die fynste besonderheid beplan is, saam met Elbé Ferreira en haar uitsonderlike span.



