NewsNews

Sodom en Gomorra in Sasolburg se sakekern

SASOLBURG. - Dwelmsmouse, verslaafdes, diewe, katmoordenaars en kwaadstokers is maar van die karakters waarmee Nonnie Kotze en haar sekuriteitspan daagliks moet sukkel.

SASOLBURG. – Dwelmsmouse, verslaafdes, diewe, katmoordenaars en kwaadstokers is maar van die karakters waarmee Nonnie Kotze en haar sekuriteitspan daagliks moet sukkel.

Nonnie is die bestuurder van Sasolburg Square. Sy sit met haar hande in haar hare oor die gemors wat daagliks agter die Sasolburg Square, in die afleweringsgebied tussen die Square en die besighede in die Wandellaan aan die gang is.

Die verkoolde karkas van die baba katjie wat in die gebied lê. Foto: Schalk le Roux
Die verkoolde karkas van die baba katjie wat in die gebied lê. Foto: Schalk le Roux

“In die dae voor die Square toe dit nog net die Wandellaan was, was daardie ‘n parkeergebied. Nou is die Square aan die een kant en die Wandellaan aan die ander kant en word daardie gebied gebruik vir aflewerings en die vullisverwydering van die besighede wat aan die gebied grens.

Die gebied behoort egter nie aan die Square of die Wandellaan nie, dit is basies ‘n ‘no-man’s-land.’ Aangesien slegs die afleweringstrokke en vullistrokke daar inkom, het die dwelmsmouse en verslaafdes nou hierdie gebied oorgeneem. Dit is baie gevaarlik, ek is al hier aangeval,” vertel Nonnie.
Afgesien van die dwelmsmouse en verslaafdes wat daar rondhang, vertel Nonnie en ander besigheidseienaars van twee jong meisies wat gereeld daar gesien word wat seks het met die dwelmsmouse in ruil vir heroïne.

Daar is glo ook gereeld mans wat seks met mekaar het en glad nie omgee wie dit sien nie. Die gebruikte naalde lê oral en waar jy kyk, sien jy leë medisynebotteltjies, veral hoesstroop. Gebruikte kondome lê ook die wêreld vol en elke drie minute kyk jy in ‘n geslagsdeel vas, aangesien al wat leef en beef hulself daar kom verlig. Selfs Vaalweekblad se joernalis, met kamera in die hand, het nie die manne wat urineer afgeskrik nie.

Hulle het glimlaggend aangehou om hulself te verlig. Wat egter erger as al die ‘urinemonsters’ is, is die verkoolde karkas van ‘n babakatjie wat in die gebied gelê het. Diegene wat die gebied so op horings neem, het die babakatjie in ‘n kartondoos aan die brand gesteek. ‘n Deel van die karton is nog duidelik sigbaar onder die katjie se karkas.

“Wie doen so iets? Dis erg genoeg dat hulle hulself so sit en verniel, nou moor hulle nog babadiertjies ook,” het een van die mense gesê. Vir Nonnie en haar sekuriteitspan wat die gebied moet patrolleer, is veiligheid egter hulle grootste vrees.

“Ek is reeds hier aangeval. My personeel is ook daagliks in gevaar, want hier is soms groot groepe mense. Die werknemers van die besighede wat aan die gebied grens, sit hulle leë houers hier om verwyder te word. Niemand gaan sien as iemand jou gryp of aanval nie. Hoe lank voor een van hulle aangeval word? Hier was ook al heelwat inbrake,” sê Nonnie.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button