NewsNews

Vories verf saam aan kunstenaar se droom vir Parys

Vories verf saam aan kunstenaar se droom vir Parys

 

 

Die graad nege Meerkatspan van Parys Voortrekkerkommando, saam met Diesl die brak, het Saterdag, 23 Oktober die verfkwaste nader getrek. Hulle het die plaaslike kunstenaar, Deon TerBlanche gehelp om die muur by die Metodiste Kerk langs Parys se hoofstraat wit te verf ter voorbereiding vir sy nuutste straatkuns-projek waarmee hy kleur aan die dorp se strate gee.

 

Graad 9 Voortrekkers van die Parys Voortrekkerkommando wat die naweek help verf het aan ‘n muur in Parys se hoofstraat, saam met die plaaslike kunstenaar, Deon TerBlanche (links). Foto: Verskaf

 

Die Meerkatte is tans besig met hul Verfwerk-kenteken, en daarom kon hierdie geleentheid nie op ‘n beter tyd kom nie. Die Meerkatte het 25 liter wit verf geskenk, en verbasend was dit net-net genoeg. Nadat almal ingespring het was die muur, wat 50 meter lank is, binne drie ure klaar geverf.

 

Menige verbyganger was vol lof vir hoe die dorp se mense inspring en saamstaan om dinge gedoen te kry, en natuurlik kon hulle nie uitgepraat raak oor die span kinders wat so fluks werk nie. Diensbaarheid in die gemeenskap is een van die Voortrekkers se waardes, en staan Parys Kommando se Vories nie terug vir harde werk nie. Boonop was dit groot pret en lekker om saam-saam ‘n projek aan te pak, gesels die Meerkatte. Daar was selfs ‘n groot bederf vir hulle met Angelo’s Pane Vino en Lekker Bistro wat hulle onderskeidelik met heerlike pizza en koeldrank beloon het vir hul harde werk. ‘n Groot dankie daarvoor.

Deon het naas die muur wat hy volgens ‘n tema gaan verf, ook ‘n nóg groter ambisieuse projek in die oog wat behels dat “basies die hele gebou oorkant Spar in graffiti-styl geverf word.” Deon glo dit sal ‘n baie positiewe verandering bring en beslis deur besoekers raakgesien word. Daar sal egter eers oor 2-3 maande moontlik met dié projek begin kan word, omdat die gebou eers geverf gaan word. “Ek hoop om met die projekte Parys se reputasie as ‘n ‘kunsdorp’ te versterk.

Dit is immers een van die dinge wat die dorp nog altyd ‘anders’ maak, en ons moet ten alle koste daarop voortbou,” sê Deon. Verlede jaar het die Voortrekkers en ander vrywilligers uit die gemeenskap ook hand bygesit toe Deon die betonmuur van die Mimosa Tuine in Boomstraat geverf het. Die helderkleurige muurpanele het beslis al aandag getrek. Só ook sy besondere geelvis klipkunswerk wat van die Potch-brug oor die Vaalrivier by Egweni River Lodge hang, om mense ook op dié unieke manier bewus te maak van die beskerming van ons waterbronne.

 

 

Deon wil veral ‘n verskil maak wat werkskepping betref ná die terugslag wat die Coronavirus-pandemie ook vir die plaaslike ekonomie gebring het. In Johannesburg, Kaapstad en Durban is daar talle besighede en private ondernemings wat ‘n bestaan voer deur besoekers onder meer op Straatkuns/Graffiti-toere deur die stad te neem. Sy idee is dat mense moontlik van die trapfietse wat plaaslik te huur is, perdekarre, gholfkarretjies, Epilepsie SA se Vrystaat/Noordwes-sentrum bussie, asook huurmotors gebruik kan maak, wat dan deur middel van ‘n gesentraliseerde kaartjiestelsel besoekers op só ‘n toer kan neem.

Die toer sê Deon kan fotostoppe by die rivier insluit, ‘n besoek aan Parys se eie eiffeltoring en meer, en dan eindig by ‘n laaste koffiewinkel-stop. Nie net sal die toer die voordeel van werkskepping hê nie, maar restaurante, koffiewinkels en gastehuise asook ander plaaslike sakelui hieruit laat voordeel trek, meen Doen. “My werk is eenvoudig om genoeg kunswerke te skep om só ‘n roete suksesvol te maak.” Nog een van sy toekomsdrome is om al die elektriese meterkaste waarvan baie ‘n seer oog langs die dorp se strate is, kleurvol en volgens temas te verf.

Gaan kyk gerus na die substasie by die ingang van die dorp van Sasolburg-kant, wat hy met ‘n vroeëre projek ‘n trots Suid-Afrikaanse tema gegee het. En dan is daar ook ‘n groot dubbelverdiepingmuur wat hy wil gebruik om ‘n huldeblyk te skilder vir ‘n plaaslike kunstenaarvriend wat vanjaar oorlede is. Vir Deon om die projekte aan te pak het hy egter geldelike skenkings nodig. En dan is daar ook hande nodig.

Enigeen wat bereid is om te help – of jy ‘n plaaslike inwoner of kunstenaar is, is welkom. Jy kan Deon per WhatsApp kontak by 083 338 4234. Die bankrekeningbesonderhede vir donasies wat uitsluitlik vir die dorpsprojekte oopgemaak is, is as volg: Deon TerBlanche, Spaarrekening, TYMEBANK, Tak: 678910, Rekening: 51004953501. 

 

Related Articles

Back to top button