NewsNews

Organisasies snoer kragte saam vir droogtehulp

Organisasies snoer kragte saam vir droogtehulp AfriForum, Solidariteit, Helpende Hand en TLU SA het verlede week tydens ʼn mediakonferensie in Centurion hul planne bekend gemaak om boere wat deur die erge droogte geteister word, van hulp te voorsien. Die samehangende projek is daarop gemik om droogtegeteisterde gebiede van verligting te voorsien. AfriForum het vandag aangekondig …

Organisasies snoer kragte saam vir droogtehulp
AfriForum, Solidariteit, Helpende Hand en TLU SA het verlede week tydens ʼn mediakonferensie in Centurion hul planne bekend gemaak om boere wat deur die erge droogte geteister word, van hulp te voorsien. Die samehangende projek is daarop gemik om droogtegeteisterde gebiede van verligting te voorsien.
AfriForum het vandag aangekondig dat die organisasie R200 000 aan TLU Suid-Afrika skenk om die samewerkingsooreenkoms af te skop. AfriForum het elke persoon wat tot dusver ʼn bydrae gemaak het, hartlik bedank. “Ons wil dit duidelik stel dat die droogtekrisis nog nie verby is nie en ons vra lede van die publiek om hul naam na 38312 te SMS om sodoende ʼn R10-bydrae te maak. AfriForum is steeds bereid om die geld rand-vir-rand te verdubbel. Die nood het só ʼn vlak van dringendheid bereik dat alle vorme van ondersteuning absoluut noodsaaklik is,” het Henk Maree, AfriForum se nasionale woordvoerder, gesê.
Dr. Danie Brink, uitvoerende hoof van Helpende Hand, het sy organisasie se hulp aan die droogtegeteisterde boere bevestig: “Helpende Hand is diep besorg oor die humanitêre krisis wat onder ons boere op die platteland ontstaan het. Ons bied graag ondersteuning deur die TLU SA se takke aan in die vorm van R100 000 se verligtingskoepons wat vir voedselaankope aangewend kan word. Toe Helpende Hand om hulp gevra het vir die stakings in Rustenburg, was dit die boere wat met ywer daarop gereageer het. Boere is van nature vrygewige mense. Ons wil nou graag vir hulle help. Helpende Hand het ook die Rampgebiedstudiefonds geskep waaruit agt studente wie se families deur die droogte geraak is, rentevrye studielenings ontvang het.”
Volgens Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, gaan Solidariteit meer betrokke raak by die droogtekrisis in Suid-Afrika. “Ons gaan betrokke raak nie net omdat ons besondere simpatie met die landbougemeenskap het nie, maar ook omdat die droogtekrisis na elkeen van ons se kaste gaan oorspoel. Suid-Afrika onderskat die rimpeleffek van die krisis.”
“Ons het vier fotograwe aangestel om die droogte in verskillende dele van die land te dokumenteer. Die fotoreeks gaan op Donderdag, 28 Januarie 2016 bekend gestel word. Die foto’s gaan ook opgeveil word en die opbrengs gaan vir die verligting van armoede geskenk word,” het Hermann bygevoeg.
’n Foto van leë, vaal landerye weerspieël in werklikheid leë winkelrakke.
TLU SA se uitvoerende komitee het op 20 Januarie 2016 die terugvoer vanuit hul strukture van oor die land indringend bespreek en besluit hoe die beskikbare middele die beste aangewend kan word. Die droogte se invloed op die landbou-omgewing is uiteenlopend van aard op ʼn makro- sowel as mikrovlak. Dit strek van ʼn waterprobleem op sekere plase, kritieke voertekorte, kontantvloeiprobleme en dan die groot omvang van insetkoste wat nie ʼn opbrengs gaan lewer nie.
Die uitdaging is om seker te maak dat beskikbare hulp wel uitkom by die plekke waar die nood die grootste is. Gesprekke is onder meer met verskeie kerke op sinodale vlak gevoer en daarom is dit TLU SA se oortuiging dat daar op grondvlak ʼn gesamentlike operasionele sentrum (GOS) gestig moet word tussen al die rolspelers ten einde nood te identifiseer en die hulp te kanaliseer. Só ʼn GOS sal vir die afsienbare toekoms ʼn rol moet speel. Groot dank word uitgespreek teenoor die Solidariteit Beweging vir die inisiatiewe wat hulle geloods het.

You can read the full story on our App. Download it here.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button