NewsNews

Spesiale tydkapsules geplaas vir 185ste herdenking van die Slag van Vegkop

Spesiale tydkapsules geplaas vir 185ste herdenking van die Slag van Vegkop

   

 

Drie tydkapsules is die afgelope naweek op die 185ste herdenking van die Slag van Vegkop deur die FAK (Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge) in samewerking met die Vegkop-direksie, die gemeenskap, lede van die Heilbron Voortrekkerkommando en lede van die Suid-Afrikaanse Weermagvereniging se Kiewiet-tak wat ook op die FAK se Kultuurnetwerk in die Vaaldriehoek dien, op die Vegkop-terrein by Heilbron begrawe. In die tydkapsules is indrukke van die gemeenskap oor Vegkop in die vorm van briewe en foto’s wat oor jare geneem is geplaas, asook ’n gedenkboek, ’n veldoorlewingsboek van die ou weermag, asook ’n 1c (mossiemunt) wat deur die FAK op ’n houtsleutelhouer gemonteer is.

Jan-Danie Malan, projekorganiseerder van FAK-Kultuurnetwerke in die Vrystaat en direksielid van Vegkop, sê daar is lank geredeneer oor hoe daar eendag vir ons kinders se kinders vertel kan word van die uitdagings van 2021. “Daar is soveel om te sê en soveel lewenswaarhede wat beslis nog sal geld oor 50 jaar.”

“Ons wil dit oordra aan ons nageslag sodat dit behoue kan bly. Dit is iets spesiaal wat gelos word juis vir die nageslag om te weet dat ons vir hulle ook omgegee het, dat hierdie terrein van Vegkop spesiaal vir hulle behoue gebly het, en dat daar aan hulle gedink is met elke boom, elke monument en elke stukkie gras wat hier geplant is.” Malan het vertel dat ds. JD Kestell, ’n Afrikaanse predikant, kultuurleier, taalstryder, maatskaplike werker, skrywer en Bybelvertaler, voor die Anglo-Boereoorlog gehelp het met die oordrag van die Vegkop-grond van die eienaar na die Heilbron-gemeenskap. “Dit is alles vir ons as die FAK en direksie van Vegkop spesiale artefakte. My hart swel van opgewondenheid oor môre en die dinge wat hierdie nuwe geslag jong Afrikaners nog gaan doen en regkry.”

Die tydkapsules is bestem om oor 50 jaar in 2071 oopgemaak te word. Na afloop van die plasing van die tydkapsules is ’n toekenning van die FAK ook aan Quarta Pretorius, jarelange direksielid van Vegkop en vriend van Die Voortrekkers, oorhandig vir haar onbaatsugtige bydra tot die bewaring en behoud van die Afrikanererfenis.

 

Meer oor die Slag van Vegkop:

Die Slag van Vegkop naby Heilbron in die Vrystaat was een van die grootste militêre prestasies van die Groot Trek, sê die FAK in sy verklaring. Dié veldslag het op 16 Oktober 1836 plaasgevind. Op hierdie dag het nagenoeg 6000 Matebeles die laer van Andries Hendrik Potgieter aangeval, waarin 40 weerbare Voortrekkers met die hulp van vroue en kinders die aanval suksesvol afgeweer het. Al die vee is gebuit, maar met die hulp van die Barolongs het die trekgeselskap teruggetrek na Thaba Nchu van waar die Groot Trek verder ontplooi het.

Vyftig waens is by Vegkop tussen die Renoster- en Wilgerivier (tussen die huidige Lindley en Heilbron) in ’n kring getrek en doringbosse is tussen die waens gepak. Ongeveer 5000 Matebeles het op 16 Oktober 1836, onder aanvoering van Kalipi, die neerlaag gely teen 40 weerbare mans en seuns, waarskynlik onder leiding van Sarel Cilliers. Twee Voortrekkers is gedood en 14 gewond, terwyl ongeveer 430 Matebeles gedood is. Vyftigduisend skape, vyfduisend beeste en honderde perde is egter weggevoer.

Met behulp van osse wat Moroka, opperhoof van die Barolong, en eerw. James Archbell aan hulle gestuur het, het hulle na Thaba Nchu teruggekeer. In Januarie 1837 het Hendrik Potgieter en Maritz ’n suksesvolle strafveldtog teen Silkaats by Mosega afgerond met die verhaling van die veeverliese.

In 1858 het die Vrystaters ook by Vegkop teen die Basoeto gewen en in 1883 is ’n monument daar opgerig.  

 

 

Related Articles

Back to top button