Onbeskryflike dankbaarheid vir die gawe van sig

Onbeskryflike dankbaarheid vir die gawe van sig

Vir sommige was dit die uitsien om terug te gaan werk toe. Vir ander om weer hul Bybel te lees, kos te maak of tuin te maak. In die gemeenskap betrokke te wees. ‘n Kerkraadslid het selfs met ‘n glimlag gesê hy wil weer sien wie almal kerk toe kom op ‘n Sondag.

Daar was ‘n dame wat nie kon wag om weer te hekel nie.

‘n Ander wat daarna uitgesien het om weer die nommers op ‘n selfoon te kan lees en hul eie lugtyd te laai.

Vir elkeen van die 15 pasiënte wat ná lang maande se wag, weer die gawe van sig ontvang het tydens ‘n katarak-marathon by die Dihlabeng Streekshospitaal in Bethlehem, was daar onbeskryflike en spontane dankbaarheid wat oral in die gange gehoor is.

Ook vir dr. Cornelis Gouws wat as oogspesialis in Parys konsulteer, was dit ‘n spesiale eer om juis hier waar hy vir meer as ses jaar junior spesialiste opgelei het vir die staat, te kon deel wees van die ongelooflike gemeenskapsuitreik. Om ander te leer is een van sy groot passies, vertel dr. Gouws.  

 

  Dr. Cornelis Gouws en dr. Elke Harms in die teater.   

 

Dr. Cornelis Gouws in die teater.

Katarak-marathons word jaarliks gedoen wanneer spesialiste in die staat en private gesondheidsorg hande vat om meer mense op verskillende plekke in die land weer die gawe van sig te gee tydens Cataract Awareness Month wat in Oktober gevier word.

Staatspasiënte met katarakte wag dikwels vir jare om gehelp te word juis omdat waglyste so lank is en die hande min. Nadat Covid-protokol gevolg is, het dr. Gouws eers dr. Elke Harms in die teater gaan groet en is die goed georganiseerde proses wat daarna sou volg deurgegaan. Lense is gepak volgens die volgorde van die katarakoperasies van die 15 pasiënte.

Vir die marathon om te kan plaasvind, verg baie tyd, beplanning en organisasie, en moet vele borge gekry word.  

 

Die span wat betrokke was by die katarak-marathon by die Dihlabeng Streekhospitaal.  

Toe die dag uiteindelik op 2 Oktober aanbreek, was daar groot opgewondenheid onder die pasiënte, personeel en spesialiste. Susters het geloop en sing in die gange, en pasiënte wou graag hul stories deel. Pasiënte se verwagtinge het ingesluit dat hulle visie sal verbeter na die operasie en om weer ander basiese lewenstake te verrig.

Twee pasiënte kon na ‘n jarelange wag nou eers die geleentheid kry om hul tweede oog te laat opereer. Een van die dames het haar eerste operasie by dr. Gouws in 2013 gekry, terwyl ‘n ander pasiënt vier jaar gewag het om haar tweede oog te kon laat opereer. Vir haar het dit beteken dat sy uiteindelik weer haar kleinkind sou kon sien.

Vir ‘n pasiënt om in aanmerking te kom vir so ‘n operasie, moet die volgende by die hospitaal wat dit reël, gebeur: Konsultasie by ‘n oogspesialis van die betrokke staats/streekhospitaal, en diagnose deur dieselfde oogspesialis. Jou naam word dan op ‘n waglys geplaas. ’n Lensafmeting afspraak volg voor die operasie. Die oogspesialis sal bevestig watter oog geopereer word. Geduld is die wagwoord. Borge word gesoek vir alles wat nodig is om die operasie te doen. Van die lense wat gekry moet word, tot by die spesialiste wat gratis hulle tyd, kennis en ervaring kom deel.

Kom gerus in aanraking met Dihlabeng Streekhospitaal se oogafdeling wat onder leiding van dr. Elke Harms bestuur word. Dr. Cornelis Gouws konsulteer in Parys en Vanderbijlpark onderskeidelik.  

 

 

 

Related Articles

Back to top button