
Daar is vanoggend, Maandag 11 Oktober met herstelwerk begin in Boomstraat tussen Delver- en Van Collerstraat ná enorme skade die afgelope naweek weens verskeie voorvalle van oorhoofse elektriese kabel diefstal.
Omdat die stukke kabel wat gesteel is, nie bloot ingelas kan word nie, maar die hele kabel vervang moet word, moes daar eers tot vanoggend gewag word om materiaal te kon kry. Dit nadat daar sedert verlede week se wind- en haelstorm, elektriese foute wat ontstaan het weens Eskom se landwye beurtkrag en die groot vlaag van kabeldiefstal veral oor die naweek, net nie voorgebly kon word met die materiaal en mannekrag om die nodige herstelwerk alreeds teen die naweek te kon voltooi nie. Munisipaliteite hou ook nie soveel noodvoorraad aan soos wat die naweek nodig was nie. Vanoggend vroeg was daar weer eens kabeldiefstal in die omgewing van Philip- en Reuniestraat. Die diefstal veroorsaak nie net dat mense ure sonder krag sit nie, maar kos die munisipaliteit derduisende. As jy iets verdags sou sien of hoor meld dit asseblief sonder versuim by die polisie of sekuriteitsgroepe aan. Dit waarde van buurtwagte en mense se oplettendheid kan nie genoeg beklemtoon word om hierdie diefstal die hok te slaan nie.



