NewsNews

Bekroonde skrywer Zelda Bezuidehout kom gesels by Kultuurkamer

Bekroonde skrywer Zelda Bezuidehout kom gesels by Kultuurkamer

Maak seker jy mis nie die heerlike lentekuier op 14 Oktober by Die Kultuurkamer (Waterstraat), met die bekroonde skrywer, Zelda Bezuidenhout, as gas. Die lekker saamkuier begin om 10:30. Uit Zelda se pen het reeds vier jeugboeke verskyn. Die Engelse weergawe van haar gewilde “As mens geluk kon proe”, het ook pas verskyn as “Confessions of a ginger pudding”.

Daarbenewens het sy ook onlangs haar hand aan ‘n eerste gewaag met, “Die waarde van stil bure,” ‘n verhoudingsroman met heelwat elemente van mediese intrige. Die verhaallyn is fyn verweef met die tema van verlies en die gekompliseerdheid van verhoudings. Hoewel dit die eerste keer was wat sy haar hand aan dié genre gewaag het, kry dié talentvolle Parysenaar dit reg om jou vasgegom te hou tot aan die einde van die verhaal. In 2019 is haar radiodrama, “As ’n kind kom kuier” as naaswenner in RSG se radiodramakompetisie aangewys, en in 2020 wen sy en haar medeskrywer, Lunéll Kruger, ook Netwerk24 se luisterdramakompetisie met hul komedie, Koppelkat. Jong lesers kan uitsien na nog ‘n jeugverhaal van haar wat in 2022 verskyn, uitgegee deur Pan Macmillan, en ‘n jeugboek vir Afrikaans Addisionele taal hoërskoolleerders, uitgegee deur Tafelberg, wat in Februarie 2022 verskyn.

Zelda en haar skrywersvriendin Lunéll Kruger het ook die werk van jeugskrywer Sally Partrigde, “Sharp Edges”, in Afrikaans vertaal. Die titel van die Afrikaanse weergawe is “Skerwe”. Zelda se werk is ook ingesluit in die erotiese kortverhaal bundel, “Lyfskap”, saamgestel deur Sophia Kapp en Leonie van Rensburg, en pronk haar verhale in verskeie jeugverhaalbundels. Vra jy haar waaraan sy die lekkerste geskryf het, kom die antwoord – “As mens geluk kon proe” – haar heel eerste boek, en ‘n verhaal wat moeiteloos gevloei het. Jy kan beslis nie die geleentheid misloop om Zelda persoonlik te ontmoet en deel te wees van die boekbesprekings, gesprekke en heerlike verversings nie. Daar wag dalk ook ’n prys vir jou die oggend met die prystrekking.

Die koste is R60 per persoon of R100 per paar, wat ook die verversings insluit en jou die kans gee om deel te wees van die prystrekking. Bespreek jou plek vooraf by 084 503 0371.  

 

Related Articles

Back to top button