
Kleurvolle inspirasie vir volwassenes. Dit is waarmee ‘n aantal bejaardes van Najaarsrus hulle elke Woensdagoggend besig hou wanneer hulle saam die mooiste patrone inkleur. Die inkleur-inisiatief is deur een van die inwoners, Suzette Greeff, begin wat haar liefde vir inkleur met ander wou deel.
Sy vertel dat dié stokperdjie nie net kreatief is nie, maar jou ook help ontspan. Dit is gratis en Suzette deel haar prente en inkleurpotlode. Só het die inkleuroggende gesellige saamkuiers geword waar hulle nie net kreatief kan wees nie, maar ook gereeld nuwe mense ontmoet en hegte vriendskappe smee.
Hulle kom elke Woensdagoggend om 10:00 by die Dienssentrum by Najaarsrus bymekaar en nooi ook ander inwoners van ander tehuise om saam te kom inkleur. Verlede Woensdag is van die kunswerke beoordeel as motivering vir die deelnemers. Die wenners is deur Elbé Ferreira, bestuurder by Najaarsrus aangewys, en elkeen het ‘n geskenkie ontvang.
Die wenners was die 77-jarige Christine Bell (1ste), die 75-jarige Emma Booyens (2de) en die 83-jarige Rina Vermaak (3de).




