NewsNews

Soek saamrygeleentheid – toe pluk hy ’n wapen uit

Soek saamrygeleentheid - toe pluk hy ’n wapen uit

 

  “Jy sal nie my kar vat nie!” Só het die 58-jarige Mieta Mosebi, ’n vermeende kaper goed laat verstaan toe hy haar Sondagmiddag 26 September eers laat verstaan het hy soek ’n saamrygeleentheid, en toe ’n vuurwapen op haar gerig het.

Mieta vertel dat sy die middag om ongeveer 15:00 in haar Volkswagen Polo op pad terug was na Kroonstad nadat sy vroeër by familie in Potchefstroom was. Sowat 11km buite Vredefort, het sy vinnig langs die R721 gestop om by haar motor se bagasieruim te kom, toe ’n man skielik te voorskyn kom en die motor se agterdeur oopmaak en doodluiters inklim. Vermoedelik het hy tussen die laning bome langs die pad geskuil. Sy het onmiddellik hom gesê om uit te klim, en gesê dat sy nie rylopers oplaai nie.

Die man wou nie nee vir ’n antwoord vat nie, en het met mooipraatjieshaar simpatie gekry om hom te laat saamry om by sy vrou en kinders te kom. Sy het aan hom gesê dat sy die situasie nie vertrou nie en dat hy voor moet sit waar sy hom kan sien. verte Mieta. Hulle het nog nie ver gery nie, toe hy vra dat sy moet stilhou omdat hy ’n noot het. Toe hy terugkom by die motor het hy ’n vuurwapen teen haar kop gerig en haar beveel om stil te bly en vir hom R100 te gee. Mieta het geweier, en hom ferm vertel dat hy ook nie die motor sal kry nie. ’n Struweling het gevolg waartydens sy in die ry probeer het om die vuurwapen by hom af te vat. In die struweling het sy kneus- en snywonde aan haar gesig opgedoen.

Die man wou egter nie bes gee nie en het die handrem in die ry opgetrek. Die motor het getol, maar Mieta het kop gehou en toe die motor tot stilstand kom uitgespring. Met dié het sy geval en haar hand beseer. Die man het omgespring en probeer om agter die stuur van die motor te kom.

Mieta het egter blitsig van die grond afgekom en haar motorsleutels gegryp. Die waaksaamheid van Megan en Martin Botha, en André van Pletzen van Kroonstad, wat op die toneel afgekom het, het egter finaal die booswig se planne in die wiele gery. Hulle het gesien hoe Mieta hand en tand terugveg om haar motor te behou, en toe hulle uitspring om die bebloede Mieta te help, het die man op die vlug geslaan met Martin en André op sy hakke.

Megan het intussen hulp op die noodgroepe gesoek waarop lede van die Vredefort GPF blitsig gemobiliseer het, en selfs ’n hommeltuig vir die soektog ingespan het. Die verdagte is kort daarna gearresteer. Mieta is deur ambulanspersoneel behandel vir haar wonde aan haar gesig, nek en hand. Hy het ’n pistool met magasyn en 9mm “blanks” by hom gehad. Mieta vertel dat sy altyd bedag is op kapers wanneer sy ry en juis daarom al haar waardevolle besittings altyd in die bagasieruim toesluit. Daarom het die man niks in die motor kon kry wat hy kon vat nie.

Sy wou net seker maak die vleis wat sy by haar familie in Potchefstroom opgelaai het, was reg, en het daarom buite Vredefort stilgehou. Ongelukkig het sy nie die man opgemerk nie, maar dié ma van twee en vrou van ’n skole-inspekteur het beslis haar man gestaan teen haar aanvaller.

Dankie aan die SAPD Vredefort, Megan en Martin Botha, André van Pletzen, Gerrit Leeuwner vir die gebruik van sy hommeltuig, die mediese span met Alna Bronkhorst, Miena en Johan Dedwith, Danie MacHattie en Dorette Nel van We Care vir die reël van die ambulans, die reaksiespan van Vredefort Koepel GPF en boere van die omgewing wat vinnig reageer het. Hierdie was reeds die soveelste voorval waar Vredefort GPF-lede gehelp het om misdadigers in die omgewing blitsig vas te trek.

* Gazette het verlede week ook berig van die 57-jarige Antionette Spies van Parys, wat vrou-alleen twee vermeende kapers met haar mokerhoue laat les opsê het toe hulle haar motordeur oopgeruk en haar uit die kar probeer trek het. Ook hulle moes die aftog blaas sonder die motor en net met haar selfoon en beursie en ’n seer neus.    

 

 

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button