Ray Dylan groet ’n geliefde in hartroerende nuwe balade

Ray Dylan groet ’n geliefde in hartroerende nuwe balade

 

 

Die SAMA-bekroonde musikant en liedjieskrywer, Ray Dylan, wat oor die jare bekendheid verwerf vir treffers soos Hokaai Stoppie Lorrie, Dis Verby, Jessica, Hier binne klop ’n Boerehart, Angel-face, You’re My Everything, Vir Ewig Jonk, Uitbasuin, Hier Teen Jou Lyf en meer, het lankal reeds die kuns vervolmaak om met Afrikaners se harte te praat. Sy nuutste vrystelling, ‘Laaste Groet’ volg in die voetspore van die voetjeuklekker-popsnit, “By Jou Voete Lê”, wat steeds in die nr.1 posisie op talle radiostasies se trefferparades is. Die musiekvideo, wat deur Wian van der Walt van Vonk vervaardig is, is reeds deur sowat ‘n halfmiljoen mense op YouTube gekyk. Die emosiebelaaide snit, wat hy saam met Piet Farrell geskryf het, gaan daaroor om afskeid te neem van ‘n geliefde.

“Ek en Piet het destyds albei mense baie na aan ons verloor en toe besef dat tyd kosbaar en net vir ons geleen is,” vertel die sanger. “Die lied het my weer eens net laat besef dat ons mekaar moet waardeer en ondersteun in moeilike tye.” Ray beskryf Laaste groet as ‘kos vir die siel’ en glo dat mense by die lirieke sal aanklank vind juis omdat Covid-19 soveel verlies en hartseer veroorsaak het. Hy hoop ook dat die liedjie in ‘n mate vertroosting sal bring.

Ray Dylan is al vir drie-en-dertig-jaar in die musiekbedryf doenig, en was maar twaalf jaar oud toe hy saam met Bles Bridges begin toer en optree het. Oor die jare, het hy verskeie goue- en dubbelplatinumstatus-albums en -liedjies uitgereik wat van hom ‘n huishoudelike naam en groot gunsteling op die dansbaan gemaak het. Tans werk hy aan twee nuwe albums wat hy binnekort wil uitreik en sien uit daarna om weer voor groot gehore op te tree. Laaste groet is op alle digitale platforms beskikbaar.    

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button