News

Studente beskou NWU as die veiligste universiteit

Studente beskou NWU as die veiligste universiteit

‘n Graderingsoname wat StuDocu World University Ranking onlangs gemaak het se uitslae toon dat dat die NWU as die veiligste Universiteit in Suid-Afrika beskou word.

‘n Graderingsoname wat StuDocu World University Ranking onlangs gemaak het se uitslae toon dat dat die Noordwes Universiteit (NWU) as die veiligste Universiteit in Suid-Afrika beskou word. Die NWU het ‘n telling van 9,4 uit 10 ontvang wat hulle bo-aan die lys van Suid-Afrikaanse universiteite geplaas het.

Dié landswye opname het huidige studente en studente wat onlangs gegradueer het gevra om hul universiteite op ‘n skaal van 0 to 10 (0 die laagste en 10 die hoogste gradering) vir studente-ervaring en afkampusleer te plaas.

Behalwe vir veiligheid, het die NWU ook die hoogste plaaslike gradering  (9,4) vir sport ontvang en het met ‘n telling van 8,9 die eerste plek vir geriewe gedeel. Die universiteit het ook ‘n indrukwekkende hoë afkampusleer-telling van 9 uit 10 ontvang wat hulle ‘n algehele vierde plek in die land vir studente-ervaring besorg het. Volgens kenners verskil die StuDocu World University Ranking van ander ranglyste. Hoewel dit na akademiese reputasie kyk, sluit dit ook die kampuslewe en faktore in wat spesifiek vanuit die student se oogpunt belangrik is. Dit is die eerste keer dat Suid-Afrikaanse universiteite by hierdie ranglys ingesluit is.

Die ranglys neem die ervarings van meer as 45 000 studente van 1 800 universiteite regoor 30 lande in ag. Die NWU is uiteindelik 34ste in die EMEA-streek (Europa, die Midde-Ooste en Afrika) geplaas.

Die graderingsopname het aan studente gevra om die universiteite met betrekking tot 15 kategorieë te gradeer. Dit sluit elemente soos kos, lewensgehalte, die afspraakomgewing, afstandstudie, veiligheid, sport, kultuur, gehalte van kursusse, behuising op kampus, ligging, geriewe en gemeenskaplike areas, akademiese reputasie en werksgeleenthede, studentegroepe, sosiale klubs en studenteverenigings, toeganklikheid vir gestremde studente, finansiële bystand, en diversiteit in.

Prof Dan Kgwadi, visekanselier en hoof van die NWU, sê dit is bemoedigend om te sien dat die studente die NWU in so ’n positiewe lig beskou. “Ons sien dit as ’n bevestiging van die gehalte van opvoeding en lewendige studentelewe waarvoor die NWU nog altyd bekend was en wat ons deurlopend probeer bevorder en verbeter.  Ons kan die resultate van die implementering van ons strategie en sorgsaamheidsetiek sien, waarin ons personeel op akademiese sowel as ondersteuningsgebied hulle tyd en kundigheid belê het. Ons hoop dat die nasionale inentingsprogram ons in staat sal stel om in 2022 ons kampusse volledig vir kontakaktiwiteite en klasse oop te maak”, sê prof Kgwadi.

Hier is ‘n skakel na die oorspronklike berig:

Studente beskou NWU as die veiligste universiteit – Potchefstroom Herald

 

 

 

Related Articles

Back to top button