NewsNews

Vrou laat die houe reën op vermeende kaper se neus

“Ek het nie gedink ek kan so hard baklei nie."

     

 

Met haar hande het die 57-jarige Antionette Spies van Parys, verlede Donderdag verbete vasgeklou aan wat hare is, toe sy twee kapers vrou-alleen aangevat het, en die een “goed op die neus gemoker het”. Met net haar selfoon, haar beursie en ’n seer neus, moes hy en sy makker die aftog blaas. “‘n Honderd gedagtes het deur my kop gegaan, maar ek het net besluit hierdie kar gaan julle oor my dooie liggaam nie vat nie,” vertel sy. Met die kant van haar hand het sy aanhou slaan.

“Ek het hom hard geslaan, hou vir hou. Wanneer ek nie geslaan het nie, het ek die toeter onophoudelik gedruk.” Maar nie eens die groenteverkopers langs die pad het probeer help nie. Ook nie die motorwagte nie. “Niemand het probeer help. of by my gestop nie.”

Só vertel Antionette oor die nagmerrie wat sy verlede Donderdagmiddag naby Turkstra bakkery in Potchefstroom beleef het. Na ‘n jaar en ‘n half wat sy en haar man, Tommy, nie met hul kostrollie kon staan vandat die Covid-pandemie begin het, wou hul gaan voorraad koop om uiteindelik die naweek weer die kostrollie aan die gang te kry. Hulle wou net gou versiersuiker by Turkstra koop, maar omdat daar nie parkering by die bakkery was nie, het sy in die straat stilgehou.

Sy het bestuur en Tommy het oral uitgespring om hul sake te doen. Met die stilhou was sy nie gerus oor die omgewing nie, en het Tommy gewaarsku om sy selfoon veilig te bêre. Haar eie selfoon was tussen die sitplekke waar sy die battery gelaai het. Sy het die motor laat luier omdat sy ongerus was.

Terwyl sy nog gekyk het hoe Tommy in die bakkery instap, het sy skielik ‘n stamp gevoel. ‘n Man het haar deur oopgeruk terwyl ‘n jonger een by die passasierskant ingespring het. Hulle was nie gewapen nie, het ook nie klapmusse gedra nie, maar wel Covid-maskers. Die man wat aan haar kant gestaan het, het begin om haar uit die motor te ruk, maar sy het met haar regtervoet op die teer vasgeskop, haar linkerknieg op die kar se mat onder die stuurwiel vasgedruk en haar een arm deur die stuurwiel gehaak, en so geklou vir al wat sy werd is om in die kar te bly. Toe die man haar nie uit die motor kon kry nie, het hy ook na die passasierskant beweeg en het die twee begin om die motor te deursoek. “Ek het baklei met alles wat ek het, omdat ons motor nie verseker is nie, en ons dit nodig het om ‘n inkomste te verdien.”

“Ek het net geweet as hulle my uit die kar kry, sou hulle met die kar wegry. Ek is altyd paraat, maar daardie dag is ek onkant gevang omdat die motor se outomatiese sluitstelsel om een of ander rede nie die voorste twee deure gesluit het nie – dalk omdat die kar geluier het, en Tommy uitgeklim het.” In haar geveg om haar handsak vas te gryp en haar aanvallers met haar vuishoue af te weer, het sy haar hand gebreek. “Ek het nie gedink ek kan so hard baklei nie. Ek was in ‘n survival mode.

Ek het niks gehad om my mee te beskerm nie – net my hande, maar as ek weer in so ‘n situasie kom, sal ek weer baklei,” sê dié dapper vrou wat kort tevore ook Covid oorwin het.

 

 

 

Related Articles

Back to top button