NewsNews

Enorme agterstand met lisensie aansoeke, nie vuurwapeneienaars se skuld, sê SAJWV

Enorme agterstand met lisensie aansoeke, nie vuurwapeneienaars se skuld, sê SAJWV

   

Die Sentrale Vuurwapenregister (SVR) sit tans met ʼn agterstand van 138 908 nuwe vuurwapenlisensie aansoeke wat wag om verwerk te word. Dit sluit nie hernuwings in wat op provinsiale vlak hanteer word nie. Met bevoegdheidsertifikate is die situasie ewe benard met ’n agterstand van 188 296 aansoeke wat nog verwerk moet word en waarvoor die agterstand toegeskryf word aan elke aansoeker wie se kriminele rekord eers by die kriminele rekordafdeling nagegaan word moet. Die SA Jagters- en wildbewaringsvereniging het vandeesweek in ’n verklaring gesê die SVR probeer nou die blaam op vuurwapeneienaars plaas vir die reuse agterstand.

Volgens die SVR hoof, brig. L.J. Mabule, is dit die verantwoordelikheid van vuurwapenlisensie-aansoekers om toe te sien dat hul aansoeke op die stelsel gelaai word. In ʼn kennisgewing aan rolspelers in die vuurwapensektor op 6 September, sê brig. Mabule dat die SVR probleme ondervind met onvolledige aansoeke wat hulle van die polisiestasies ontvang, en dus nie daardie aansoeke kan prosesseer nie. Hy sê verder dat dit aansoekers se plig is om te verseker dat die plaaslike aangewese vuurwapenoffisier (AVO) die inligting op die stelsel invoer. Fred Camphor, uitvoerende hoof van SA Jagters- en Wildbewaringsvereniging (SA Jagters) wat sowat 44 000 jagters en sportskuts verteenwoordig, sê dit is belaglik om van vuurwapenlisensie-aansoekers te verwag om toe te sien dat die inligting op die stelsel aangebring word. “Dít is die werk van die AVOs by polisiestasies.”

Die SAPD en die SVR het onlangs hul prestasieverslag aan die parlementêre portefeuljekomitee vir polisie voorgelê. In die verslag word genoem dat met die 2019 amnestie-periode, 29 758 vuurwapens ingehandig is waarvoor weer lisensie-aansoeke ingedien is. Hiervan is slegs 50% (14 899) afgehandel. Twee jaar het verloop sedert die aansoeke ingedien is. In die 2020/2021 amnestieperiode is 75 363 vuurwapens ingehandig waarvoor lisensie-aansoeke ingedien is. Slegs 5.6% (4 241) van hierdie aansoeke is afgehandel. Hierop het brig. Mabule verduidelik dat hulle eers ballistiese verslae moet verkry voordat die aansoeke hanteer kan word.

Wat die uitreik van lisensiekaartjies betref, het brig. Mabule gesê die SVR het met die Staatsdrukkery gereël om die kaartjies te druk en by die betrokke provinsies af te lewer. Camphor se daar is wel gevalle waar aansoeke binne drie tot vier weke afgehandel is. “Dit bewys dat dit moontlik is om die proses binne ʼn redelike tyd af te handel.”    

 

 

Related Articles

Back to top button