News

Herman trap weer met ’n dankbare hart ná ongeluk-skade

Herman trap weer met ’n dankbare hart ná ongeluk-skade

 

 

Herman Johnson se fiets en selfgeboude waentjie met sy grassnyer en randsnyer daarop, is terug in Parys se strate. Woensdag, 1 September, was hy fluks aan die werk om die 25 tuine waarna hy kyk, se grasperke netjies te kry.

Dit alles danksy mense wie se harte oop was vir hom sedert hy op 21 Mei net na die 06:00 die oggend op die Parys/Koppies-pad naby die Schonkenville-woonbuurt deur ‘n motoris raakgery is. Die motoris het ook nie op die ongelukstoneel gestop nie. Hoewel Herman nie ernstig beseer is nie, is sy fiets en die waentjie afgeskryf, en die grassnyer en randsnyer beskadig.  

Herman is in Mei vanjaar deur ‘n motoris naby die Schonkenville-woonbuurt raakgery toe hy met sy fiets en waentjie op die Parys/Koppies-pad gery het.

Ná ‘n berig in die Gazette oor die ongeluk en die skade wat sy tuindiens-onderneming as gevolg hiervan gelei het, het mense van oral oor gehelp om Herman se tuindiens weer aan die gang te kry. Herman vertel dat André Coetsee vir hom ‘n fiets en gras-snyer geskenk het. Hierbenewens het nog twee mense fietse geskenk, iemand het nog ‘n grassnyer gegee, ‘n mnr. Hoffman het gehelp met die karretjie, en só het Herman nou drie gras- snyers waarmee hy kan werk.

As sy fiets probleme gee, is hy danksy die ekstra wiele nie gestrand nie. Herman glimlag as hy met ‘n dankbare hart vertel van mense se goedheid vir hom toe hy in die nood was.

Wanneer Herman nie tuinmaak nie, is hy ywerig aan die werk in sy gemeente – die Christen-gemeente in Schonkenville waar hy hoofleier is. Gazette het vroeër ook berig van sy visie vir die gemeente vir ‘n eie kerkgebou en hoe lidmate self die moue opgerol het om die kerk te bou.  

 

Related Articles

Back to top button