NewsNews

Alles en nog wat teen ‘n winskopie

    Deesdae moet jy jou sente behoorlik omdraai en tel. Wie sê dan nee vir ‘n winskopie, ‘n bietjie pret en terselfdertyd die kans om ‘n verdienstelike organisasie te ondersteun? Kom loer in Saterdag11 September van 10:00-16:00 by Emunah Foundation se perseel, Eerstelaan 50, vir ‘n groot rommelverkoping van alles en nog wat.  Daar …

   

Deesdae moet jy jou sente behoorlik omdraai en tel. Wie sê dan nee vir ‘n winskopie, ‘n bietjie pret en terselfdertyd die kans om ‘n verdienstelike organisasie te ondersteun?

Kom loer in Saterdag11 September van 10:00-16:00 by Emunah Foundation se perseel, Eerstelaan 50, vir ‘n groot rommelverkoping van alles en nog wat. 

Daar sal items wees van so min as R5 en al die inkomste van die verkoping is ten bate van Emunah. Dit beloof om ‘n heerlike dag te wees met worsbroodjies wat verkoop sal word, die Cutie Pie hondesalon wat die dag daar sal wees sodat jy selfs jou viervoet kinders kan laat was terwyl jy koop en kuier.

Daar sal ook ‘n tatoeërkunstenaar wees en naas worsbroodjies ook koffie, tee en koeldrank.

Wat doen die Emunah Foundation en waarom die fondsinsameling?

Emunah Foundation in Parys huisves kinders, veral babas, vir wie daar dringend ‘n tydelike heenkome gevind moet word veral weens verwaarlosing of mishandeling. Sedert Emunah in Julie ses jaar gelede sy deure in Parys geopen het, het 39 babas hier ‘n tydelike en veilige hawe van liefde in die huis van Collin en Sonja Viljoen gevind. Kinders wat net die skadukant van die lewe geken het. Sommige wie se ouers hulle nie meer wil hê nie.

Geen kind word ooit weggewys nie. Sedert Emunah sy deure op 17 Julie 2015 in Parys oopgemaak het, vervul hulle ‘n groot rol as plek van veiligheid, nie net vir kinders in die groter Parys nie, maar selfs van omliggende dorpe sover as Kroonstad, Potchefstroom en Vryburg.

Omdat daar geen staatsubsidie of enige finansiële hulp vir plekke van veiligheid soos die Emunah Foundation is nie, is die opsies baie beperk vir plasing van kinders wat gewoonlik vir ‘n drie maande tydperk onmiddellik gehuisves moet word totdat die wetlike prosedures vir pleegsorg afgehandel is. Eers wanneer ‘n kind in pleegsorg geplaas is, kan aansoek gedoen word vir ‘n pleegsorg toelaag.

Pleegsorg prosedures neem somtyds veel langer as drie maande om af te handel, en was daar al selfs ‘n seuntjie wat van geboorte tot ‘n maand voor sy tweede verjaardag by hulle was. Ten spyte van die groot stryd om oorlewing om ‘n huishouding aan die gang te hou en te kan voorsien in die behoeftes van die kinders wat hier geplaas word, is hierdie ‘n taak wat Colin en Sonja voel die Here hulle voor geroep het.

En dit is in die afgelope jare, maar soveel te meer die afgelope maande die gemeenskap van Parys wat hierdie groot liefdesdiens moontlik gemaak het. Mense wat maand na maand help voorsien het in die behoeftes van hierdie kinders – van klere tot mediese sorg. “Emunah Foundation oorleef uit die genade van die Here en die goedheid van mense,” getuig die egpaar.

Kom ondersteun daarom die naweek se rommelverkoping. Of dit iets ouliks, prakties of, iets is waarna jy al lankal soek – ‘n winskopie sal jy beslis hier kry.  

 

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button