News

Uitgevang!

Uitgevang!

 

So in die verbyry mag jy dalk dié sloot weerskante van die spruit langs die R59 misgekyk het. Die einste sloot het die wakker oë van munisipale werkers egter nie ontgaan nie, en het hulle twee-en-twee bymekaar getel.

Danksy hul oplettendheid en aksie om dit onmiddellik te rapporteer, en die flink optrede van die polisie, is ‘n groot deurbraak Maandagmiddag gemaak toe kabeldiewe op heterdaad betrap en in hegtenis geneem is. Die munisipale werkers wat deel is van die tegniese span, het opmetings gaan doen langs die R59 vir kabel wat vervang moes word, juis nadat dit verlede week deur kabeldiewe gesteel is.

Dit was in die verbygaan dat gesien is hoe ‘n sloot langs die R59 voor die ingang na die Parys Golf & Country Estate gegrawe word.

Die polisie was vinnig genoeg om twee verdagtes op heterdaad te betrap en in hegtenis te neem waar die sloot gegrawe is. Van die kabel was toe reeds uitgehaal. Danksy inligting wat opgevolg is, is nog 5 arrestasies ook Maandag deur die polisie gemaak.

Beslag is op van die reeds gestroopte kabel en kontant gelê. Van die gestroopte kabel was reeds verkoop. Verskeie voorvalle van diefstal van oorhoofse elektriese kabel en die sabotasie van mini-substasies het die afgelope twee maande nie net die munisipaliteit derduisende gekos nie, maar ook tot groot ongerief vir verbruikers gelei wat skielik sonder elektrisiteit was.

Die flink optrede van sekuriteitsmaatskappye en die polisie het ook gehelp dat 2 kabeldiewe voorverlede week gevang is.  

 

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button