

‘n Motorongeluk sowat 10 kilometer buite Parys op die R59 tusen Parys en Vredefort, het Saterdagaand die lewe van ‘n 21-jarige vrou van Vredefort geëis.
Volgens polisiewoordvoerder, kol. Thandi Mbambo, is die vrou op die toneel dood nadat die voertuig waarin sy en twee ander insittendes na Vredefort op pad was, omgeslaan het. Geen ander voertuie was betrokke nie.
Die twee ander insittendes is beide na nabygeleë hospitale geneem vir behandeling en is reeds teen Maandag ontslaan. In nog ‘n ongeluk vroeër Saterdagmiddag op die R59 sowat 15 kilometer buite Parys in die rigting van Sasolburg, is ‘n motorfietsryer beseer toe sy motorfiets en ‘n vragmotor gebots het. Volgens kol. Mbambo blyk dit dat die 30-jarige motorfietsryer die vragmotor aan die linkerkant wou verbygaan en toe gegly en geval het. Hy is per ambulans na die Fezile Dabi-distrikshospitaal geneem vir behandeling.
Maandagoggend was daar nog ‘n ongeluk op die R59 by die vliegveld, maar was daar geen ernstige beserings nie.




