News

Ag nee! Kyk hoe lyk die dorpsingang nou

Vandale se handewerk op granietstene

   

 

 

 

 

 

 

 

 

     

 

Die gevangenis in Parys. Die pragtige Poskantoor-gebou, en selfs die senotaaf in die Voortrekker Monument. Dit is waar jy die welbekende en pragtige Parys graniet met sy kenmerkende pienk vlamme sal sien. ‘n Kosbare deel van Parys se geskiedenis. By die dorpsingange van Parys pryk die pragtige pienk granietstene vir jare as ‘n herinnering aan dit wat eie was aan die dorp. Maar nou het vandale een van hierdie stene skadelik met verf besmeer by die wabrug waar jy die dorp inry vanaf Potchefstroom-kant. Asof dit nie erg genoeg is nie, lê die rommel voor die verwelkomingsteen gesaai.

Die storie van Parys se pienk graniet

Graniet mynbou in die Vredefort Koepel het teen ongeveer 1890 begin, en ongeveer in 1998 geeïndig. Die granietblokke wat gemyn was is hoofsaaklik gebruik vir konstruksie doeleindes, veral in staatsgeboue. So was een van die eerste geboue wat daarmee gebou was die gevangenis in Parys wat in 1896 gebou is, en kort daarna die Parys Poskantoor. Die Parys graniet of “ African Jiparano”, was ook gebruik met die opgradering van die Johannesburgse lughawe in 2009, by die gebou van die Ontvanger van Inkomste in Rissikstraat, Johannesburg, en by die Voortrekker Monument in Pretoria.

Heelwat van die graniet is ook uitgevoer na die buiteland, veral na Duitsland en Italië. In 1971 was die uitvoer van graniet die elfde grootste mineraaluitvoer van Suid-Afrika, bo en behalwe goud en platinum. Die Parys graniet was meestal fyngespikkeld, het pienkkleurige vlamme gehad, en was van hoë gehalte. Dit was ook baie hard om te bewerk en het dit ure geneem om ‘n granietblok uitgesny te kry.

 

 

‘n Ou granietsnyer wat destyds drie dae sou neem om ‘n blok graniet te sny. In die snyproses is daar modder gebruik as smeermiddel. Foto: Gustav Engelbrecht.

Die granietmyne in die Vredefort Koepel was veral in die omgewings van Kopjeskraal, Rietpoort, Rensburg Drift, Spitzkop en Otavi. Uiteindelik het die graniet mynbou tot ‘n einde gekom hoofsaaklik as gevolg van omgewingsdruk van die plaaslike gemeenskap, en omgewingsgroepe wat ontsteld was oor die verskriklike geraas van die toerusting wat gebruik is om die granietblokke uit te haal, die swart pseudotachyliet in die graniet wat nie destyds voldoen het aan die internasionale goedkeuring nie, (tans is dit egter een van die bewyse van ‘n meteoriet impak), buitensporig hoë stygings in uitvoerkostes en skeepsvragkostes, die “graniet-modegier” wat grootliks oorgewaai het, en groter belangstelling in Brits doleriet wat makliker en sagter was om te bewerk.

Een van die eerste granietmyners in die Vredefort Koepel, mnr. Pedretti, was oorspronklik van Italië, en het met die mynbou werksaamhede in die omgewing begin.    

 

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button