

Graad 1 Voortrekkers van Parys Voortrekkerkommando het verlede week al te lekker gebak en brou tydens dié kommando se spanbyeenkoms.
Ten spyte van die Covid-19 pandemie en inperkingsregulasies, het niks die Vorie-gees die afgelope maande gedemp nie. Daar is kreatiewe planne gemaak om selfs in grendeltyd aan die gang te bly. So is selfs ‘n korona-kenteken vir die Voortrekkerbeweging bekend gestel vir virusweerbaarmaking juis om positiewe erkenning te gee in hierdie buitengewone tye waar nuwe vaardighede geleer moes word. Toe daar nie spanbyeenkomste gehou kon word nie, is op ondernemingsgees, diensbaarheid, opleiding en vaardigheidsontwikkeling gefokus, met die klem op kreatief en virtueel.
Maar nou dat die aangepaste vlak 3 inperkingsregulasies weer kultuuraktiwiteite moontlik maak, kan daar elke Woensdag om 16:00 by die laerskoolterrein bymekaar gekom word waar allerlei avonture en aktiwiteite aangepak word om vir kentekens te werk.
As jy van die buitelewe hou, slim planne kan maak, nuwe dinge wil leer en hope pret wil hê, moet jy beslis Woensdag ‘n draai maak en by Parys se Voortrekkerkommando kom aansluit.



