Wenke om vrese en angstigheid by kinders te hanteer

Wenke om vrese en angstigheid by kinders te hanteer

   

 

Vrees en angs is altyd met ons, maar veral in die tyd waar ons al so lank met die gevolge van die Covid-19-pandemie moet saamleef, blyk dit net asof soveel meer van ons, en veral ons jonger kinders hiermee worstel. Hoekom is dit so en hoe hanteer ‘n mens dit sinvol? Afrikaans.com gee ’n paar riglyne: Eerstens moet ons onthou dat vrees natuurlik is, en dat vrees by kinders nie noodwendig iets is om jou oor te verknies nie.

Baie daarvan is natuurlike vrese (soos vir die donker, of vir motte) wat op ‘n sekere ouderdom manifesteer en dan verdwyn. Die ryke verbeelding van jou 3- of 4-jarige speel byvoorbeeld ‘n groot rol, en dikwels lyk ‘n skaduwee darem al té veel na ‘n monster, of daardie tak wat teen die ruit krap, is die lang naels van die monster wat wil inkom.

Die natuurlike respons hierop is om bang te wees. So ook het die pandemie ander vrese laat posvat, en dikwels kan die kind dit nie verwoord nie, en is dit makliker om te sê hy is bang vir die donker, maar inderwaarheid is hy dalk bang mamma of pappa gaan ook dood, of die virus maak hom siek.

Daarom is dit veral nou dat ouerskap belangrik is en moet ons seker maak ons die situasie goed hanteer. Daar word ook gesê angstige kinders het dikwels angstige ouers. Daarom is dit belangrik om jou eie angsvlakke te beheer en na jou geestesgesondheid om te sien. Kyk eers na jouself. Wat is jou vrees, hoe reageer jy daarop, en beperk dit dalk jou algemene optrede en gedrag?

Die rede hiervoor is dat ouers se vrese of gevoelens kan oorspoel na die kind en dit kan dan lei na oormatige angstigheid.

‘n Paar wenke:

•Eerstens moet ‘n mens jou kind help om tussen werklike en natuurlike vrese te onderskei.

Sodanige vrese moet dan op ouderdomsgepaste wyse hanteer word. Ouers moet ook daarteen waak om oorbeskermd te wees, maar tog in staat wees om te besluit wanneer dit tyd is om op te tree. Dit bly belangrik dat jou kind geborge en veilig voel, want dan het jy ‘n gelukkige kind.

•Gee jou kind se emosies of vrees geldigheid, m.a.w. moenie die vrese afmaak as twak of onbelangrik nie.

•Luister na jou kind en kry dan saam met hom ‘n oplossing. Dit kan iets eenvoudig wees, soos om ‘n nagliggie aan te skaf, of om poeier te strooi om die monster weg te jaag. •Kontroleer jou kind se skermtyd – selfs ‘n onskuldige kinderfliek kan sekere kinders bang maak.

•Probeer vasstel wat agter die vrees lê en gee dan erkenning daaraan. Jou kind is dalk alleen en hou nie daarvan om alleen in sy kamer te slaap nie, maar hou in gedagte dat die een vrees na ‘n ander (dalk groter) vrees kan oorgaan.

•Let op na jou kind se gedrag sonder om hom te etiketteer. As jou kind egter skielik sy naels tot in die lewe afkou, of weer die bed natmaak, is daar fout en het die vrees waarskynlik oorgeneem en moet daar met ‘n plan opgetree word.

•Maak seker jou kind slaap genoeg.

•Hou by ‘n roetine. Dit laat kinders veilig voel en skep ook grense. Kinders wat weet wat van hulle verwag word en wat die gevolge gaan wees indien dit nie gebeur nie, is minder beangs.

•Moenie die heeltyd vra wat fout is nie. Wees eerder meer spesifiek: “Ek kan sien jy is bang. Kan ek help met iets?” is beter opsies. Baie belangrik is om nie voorskriftelik te raak nie – want veral tieners is allergies daarvoor.

•Gun jou kind genoeg vrye tyd – sodat hy net kan ontspan.

•Vergewis jouself van jou kind se leefwêreld. Bly in voeling met sy angsvlakke sodat jy vroegtydig kan ingryp: Gaan sit by hulle in hulle kamer en gesels. Vra hulle uit oor die speletjies wat hulle op die i-Pad of rekenaar speel – dalk kan jy saamspeel. Maak seker jy weet wat op hulle fone aangaan.

•Die heel belangrikste: Wys jou kinders dat jy hulle geniet, trots is op hulle, hulle respekteer en aanvaar nes hulle is.

Spesifieke raad ten opsigte van die Covid-19-epidemie:

Dit bly maar traumaties en dis veral ons sensories-sensitiewe kinders wat swaar kry. Die beste is maar om jou kind dop te hou – kinders weet nie hoe om hulle gevoelens te hanteer nie, en maak dikwels ‘n berg van ‘n molshoop. Daarom is dit belangrik dat ouers hulself moet bemagtig om in beheer te wees, want slegs dan kan jy jou kind se vrese objektief hanteer. In die verband moet jy:

•Op ouderdomsgepaste manier met jou kind praat oor die virus en alles wat daarmee gepaard gaan, en ook sy vrae geduldig beantwoord.

•Seker maak jy praat nie grootmensgoed waar jou kind kan hoor nie – hulle weet nie noodwendig altyd waaroor dit gaan nie. •Seker maak jou kind voel veilig, daarom is emosionele ondersteuning so belangrik.

•Daarop let om nie jou kind (en jou eie) ouditiewe vlakke te oorlaai nie. Dink maar met almal tuis word ons sensoriese vlakke oorlaai. Die televisie, radio, stofsuier, grassnyer, honde wat blaf, ens. laat ons noodwendig harder praat – sonder dat ons dit besef. Ons kinders kan dit ervaar as “mamma raas met my” of hy dink dalk mamma en pappa baklei.

•En as jy nie meer weet watter kant toe nie – kry hulp en raad van kundiges. ‘n Spelterapeut, ‘n sielkundige, ‘n pediater of ‘n psigiater. Die meeste kundiges doen aanlyn beradings as ‘n persoonlike kontak nie moontlik is nie.    

 

Related Articles

Back to top button