Rukwind dryf vlamme
Rukwind dryf vlamme
Sterk ruk- en dwarrelwinde wat konstant tussen 45 en 50km/h gewaai het, het Vrydagmiddag rondom 12:00 ‘n brand wat naby die Pothou-kruising in die Vredefort-distrik begin het, ongenadiglik in ‘n suidwestelike rigting gedryf.
Boere en lede van die gemeenskap uit die Vredefort-, Viljoenskroon- en Potchefstroom-distrikte, tesame met ‘n Working on Fire span van Noordwes, het onverpoosd teen die vlamme geveg, en kon die brand teen 23:00 Vrydagnag teen die Potchefstroom/Viljoenskroon-pad onder beheer bring.
Teen Maandagmiddag was dit nog nie seker presies hoeveel hektaar gebrand het nie, maar is geskat dat dit oor nagenoeg 5 000 ha gebrand het, het Willem Fourie gesê.
Hy sê daar is groot dankbaarheid dat daar nie veeverliese was nie en ook vir boere van buite die gebied wat kom help het.
Veldbrande het oor die naweek op verskeie Vrystaatse plase ook in die Koppies-, Fickburg-, Kroonstad- en Winburg-distrikte gewoed. Vrydagaand het dit weerskante van die N1 naby Koppies en Rooipoort gebrand.
Die digte rook het veroorsaak dat ’n gedeelte van die N1 op ‘n stadium vir verkeer gesluit moes word.




