NewsNews

De Pontes Vrugtestal vir byna ’n halfeeu deel van Parys

De Pontes Vrugtestal vir byna ’n halfeeu deel van Parys

 

 

Of jy nou koers kies Vredefort se kant toe, of die dorp sou inry van Vredefort-kant af – ‘n stop by De Ponte’s Vrugtestal was altyd die moeite werd. Selfs bekendes soos Tolla van der Merwe en David Kramer het in die verbygaan hier kom inloer. Dié padstal langs Parys se hoofstraat was destyds een van die grootste groente- en vrugtehandelaars in die dorp. Veral toe die dorp nog nie ‘n verskeidenheid van kettingwinkels met vrugte- en groente-afdelings gehad het nie.

Maar in Maart 2020 toe die huurkontrak met die Ngwathe munisipaliteit op wie se grond die padstal staan, geëindig het, is besluit dat die tyd gekom het om die padstal se deure te sluit, vertel Paulo de Ponte, wat al sedert sy standerd ses-dae in die padstal gewerk het.

Die geskiedenis van die padstal strek oor 47 jaar en is so kleurryk as die verskeidenheid van groente en vrugte wat jy hier kon koop. Die destydse stadsklerk, Joop Ferreira, en die munisipale raad het die gedagte gehad om stalletjies op dié munisipale grond te bou wat boere die geleentheid sou gee om oor naweke hul vars produkte hier te verkoop.

So is ses stalletjies opgerig wat aan boere verhuur is. Gabriël de Ponte en ander vennote het op daardie stadium De Pontes Fish & Chips in die dorp gehad, en toe hy later jare sy aandeel verkoop het, het hy een van die stalletjies gehuur en begin om van die groente wat hy op sy kleinhoewe gekweek het, daar te verkoop. Een stalletjie het twee geword, en later drie, totdat Gabriël uiteindelik die munisipaliteit die aanbod gemaak het dat hy al die stalletjies sou oorneem soos wat die ander huurders se kontrakte verstryk het. Met die hulp van Fred Campbell is ‘n deel van die stalletjies oopgebreek en toegebou.

Waar die groente aanvanklik self deur Gabriël gekweek is, is daar so uitgebrei dat daar later twee maal per week mark toe gegaan is om vars vrugte en groente te kry. Talle vakansieoorde en ondernemings het kontrakte met die De Pontes gehad vir die lewer van vars vrugte en groente weekliks.

 

De Pontes Vrugtestal soos inwoners van Parys dit onthou.

Wyle Gabriël de Ponte.

 

Die hele De Ponte gesin het hier gewerk, pa Gabriël en ma Celia en hul seuns, Manuel, Paulo en Luiz. Manuel het later by die polisiediens aangesluit en Luiz is Weermag toe en het daarna ‘n pos by Spar gekry.

Paulo het na sy diensplig permanent saam met sy ouers kom werk. Wonderlike tye wat hy saam met sy ouers gehad het en soveel mense leer ken het. Met Gabriël se dood vyf jaar gelede, het Paulo en sy ma voortgegaan met die besigheid wat sewe dae per week oop was vir kliënte.

Oor die jare is daar 42 keer ingebreek, onthou Paulo, en is dit nie verbasend dat sedert De Pontes Vrugtestal sy deure gesluit het, al wat pyp en kraan weggedra is. Die vervalle en gestroopte gebou is vandag al wat oor is van ‘n eens florerende onderneming wat ‘n deel was van Parys se geskiedenis.  

So het die stalletjies aanvanklik gelyk.

 

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button