Ná maande is daar uiteindelik weer beloftes van hulp van die Vrystaatse departement van polisie, paaie en vervoer vir die onrybare S171 (Vaal Eden-pad). Toerusting sal oënskynlik binne die volgende weke beskikbaar gemaak word om grondgedeeltes van die pad te skraap.
Grondeienaars is egter skepties óf dit strooihalms is waaraan vasgeklou word met die departement se beperkte toerusting en gebrek aan instandhouding van dié toerusting om by alle probleem paaie te kan uitkom. Aanbevelings oor die herstel van die haglike S171 is al in ‘n verslag in Julie 2017 gemaak, maar sedertdien was die herstel van die pad ‘n ewe groot gesukkel as vir motoriste wat van die teervoos pad gebruik moet maak. Van die skuld vir die agteruitgang van die pad is in die destydse verslag al deur grondeienaars langs dié sekondêre pad, voor die deur van die sandmyn-ontwikkelaars in die omgewing gelê wat met mynaktiwiteite ‘n toename in verkeer van swaarvoertuie op die pad gebring het.
In Oktober verlede jaar is daar einde ten laas weer hulp gekry met die herstel van slaggate op dié pad danksy Vaal Eden Land Care lede en grondeienaars se bydrae vir sement en arbeid, en die department wat die teermengsel, TLB, tipbak vragmotors, stamprollers en arbeid beskikbaar gestel het. In Maart 2020 het Land Care komitee-lede ook ‘n 10km strook teerpad herstel om dit rybaar te kry vir nie net grond- eienaars langs die roete nie, maar ook vir mynvoertuie en toeriste wat van die pad gebruik maak vir die trou- en funksie-fasiliteite wat hier geleë is. Hoewel die hulp wat in die verlede van die paaie departement gekry is met ope arms verwelkom is nadat vroeër aangedui is dat daar nie geldelik bygedra kan word nie, omdat daar nie geld is vir herstel van sekondêre paaie nie, bly die toestand van die pad ‘n bron van kommer.
Dit is veral ’n groot gevaar in reënweer en wanneer sig swak is. In 2019 is aan die grondpad-gedeelte voor Sandfontein verby, oorkant die Almur Smit Pluimveeplaas op pad na die vliegveld, asook aan die teergedeelte van die S171 gewerk. Toe is die pad geskraap, leivore gemaak en gruis bygesit, en het die departement teer beloof om die slaggate reg te maak. Maar die vele beloftes ten spyt het nog nie die toestand van die pad verbeter nie omdat gereelde instandhouding nie gedoen word nie, en grondeienaars nie kan bly opdok vir die instandhouding van die pad nie.




