NewsNews

Hof sê oor dorp se kragstryd

Hof sê oor dorp se kragstryd

   

 

Die Vaal River Developement Association (VRDA) en die Lekwa Belastingbetalersvereniging, sal nou hul aandag vestig om Eskom se appél suksesvol teen te staan teen waarnemende regter Anthony Millar se vroeëre bevel in die kragstryd teen Eskom en die Ngwathe Munisipaliteit oor gedwonge munisipale beurtkrag. Dit nadat die hof nou by monde van regter Davis in ‘n dringende aansoek van die Lekwa Belastingbetalersvereniging, beslis het dat die vorige tussentydse bevel deur waarnemende regter Millar, wat Eskom en die munisipaliteit verbied het om gedwonge munisipale beurtkrag in Parys toe te pas, die uitwerking van ‘n finale bevel het.

Dit beteken in effek dat die bepalings van die vorige bevel dus opgeskort word tot die appélsaak aangehoor is, waarskynlik later vanjaar. Die Lekwa Belastingbetalersvereniging het op 17 Junie ‘n dringende aansoek na die hof gebring oor die verontagsaming van hierdie tussentydse bevel van waarnemende regter Millar vir die toepassing van gedwonge munisipale beurtkrag. Hoewel daar danksy kragbesparing van verbruikers wat telkens gewaarsku is wanneer verbruiksvlakke té hoog was, meerendeels daarin geslaag kon word om munisipale beurtkrag af te weer, is dit wel by geleentheid vroeër toegepas, juis in ‘n tyd toe ysige wintertemperature gevoel is.

Die Vaal River Development Association het toe namens die Parys Ontwikkelingsforum en Parys Gemeenskapsaksie op 10 Junie ‘n brief aan Ngwathe gerig waarin gewys is op die verontagsaming van die vroeëre tussentydse hofbevel. Die munisipaliteit op sy beurt het by monde van die munisipale bestuurder, mnr. Bruce Kannemeyer, gesê dat Eskom die munisipaliteit in kennis stel as daar oorskryding is van die gekontrakteerde munisipale elektrisiteitsvoorsiening (Notifyable Maximum Demand), waarop munisipale beurtkrag dan toegepas word.

Adv. Danie Wijnbeek het reeds vroeër in die hof namens die applikante aangevoer dat Eskom se enigste risiko finansieel is, terwyl ‘n gemeenskap wat aan die plaaslike owerheid betaal, swaar deur munisipale beurtkrag geraak word. Inwoners in veral aftreeoorde word geraak omdat hul lewens in gevaar gestel word as lewensnoodsaaklike toerusting weens kragonderbrekings buite werking is. Hy het ook gewys op die besoedelings- en gesondheidsgevaar tydens knaende beurtkrag wanneer rioolpompe en waterpompe nie werk nie, en rou riool in die Vaalrivier beland. Wanneer pompe nie werk nie, veroorsaak dit ook watertekorte in die dorp en was kragonderbrekings reeds die rede waarom fabrieke en ondernemings uit gebiede onttrek. Die gekontrakteerde elektrisiteitsvoorsiening (NMD) vir Parys is tien jaar laas aangepas.

Hoewel Ngwathe aansoek gedoen het om verhoging van die NMD, het Eskom tot nou toe aangedui dat die verhoging van NMD nie outomaties goedgekeur word nie, omdat die proses onderhewig is aan kredietbeheer. * Dit het egter die afgelope week gelyk asof Eskom wel minder rigied optree hangende die uitkoms van die appél, en is daar ten spyte van snerpende koue temperature nie munisipale beurtkrag toegepas nie. Mense is wel versoek om krag spaarsamig te gebruik.

 

     

Related Articles

Back to top button